Tuesday, November 28, 2017

Lillie die heksie met liedjies vir peuters


Smit, Gertie(comp.) : Liedjies vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2017)

40 Versies uit die boek Rympies vir pikkies en peuters is getoonset vir 1-3jariges. Die boek bevat ook ‘n CD verwerk in saamsing-formaat met die stem van  Marlie Katzke.

Onderwerpe in 20 afdelings behandel baie van die onderwerpe wat vir die kleintjies belangrik is, soos hulle lyfies, gesin, die huis, troeteldiere, speeltyd, en gesonde kos. Onderwysers en ouers wat wil saamspeel of sing, sal saam met die kinders groot pret hê.

Persoonlik sou ek vir die ouerdom seisoene , insekte, en veiligheid bv. kon uitlaat,  en meer persoonlike situasies soos tande borsel, badtyd, ‘n eina, ingesluit het. Ek mis ook die pa- figuur en miskien ‘n ouer sussie of boetie.   

‘n Handige en bruikbare toevoeging tot materiaal vir die heel kleintjies.

Die illustrasies deur Astrid en Nadia Blumer gee kleur aan elke  situasie.

Onder die opskrif opvoedkundige motivering word die kenmerke van kinderliedjies, vir wie dit bedoel is en hoe dit gebruik kan word, behandel.

Baie duidelik is Gertie Smit ‘n ervare  opvoedkundige met ‘n liefde vir kinders wat hier duidelik uitgebeeld word. Hoogs aanbeveel vir tuis-en klaskamers, en biblioteke.

Knister: Lillie die heksie in Wonderland( PROTEA, 2017) Illustrasies deur Birgit Rieger.

17 titels het alreeds verskyn by PROTEA uitgewers, en met vertalings in 40 tale is die karaktertjie internasionaal baie geliefd.

Met haar gebruiklike sin vir avonture en nuuskierigheid, besluit Lillie vergesel van Hektor die drakie besoek hulle die sneeubedekte wonderland waar geheime op hul wag , want gou hoor hulle by Neutella die eekhoring dat die koning van Lente, Somer en Herfsland , koning Origano  gegaan het om die bergbewoners te help, en toe nooit weer teruggekeer het nie. Daar is gepraat van groot nood, honger en ysige koue.

Ons dapper helde besluit toe om self ondersoek in te stel, Ola die Ysingwekkende heers glo daar – ‘n wrede despot met geen genade of simpatie vir lewe nie.   ‘n Hoë muur omring die land van verskrikking, en en die twee moet by die twee hekwagte, ysbere, verby kom deur elke keer ‘n raaisel op te los. Sal hulle daarin slaag om koning Origano op te spoor? Wat is werklik die situasie in hierdie ysige plek?

Goed versorgde boeke met die karaktertjie Lillie as boekmerk, en met  heel aantreklike kindervriendelike illustrasies . As ‘n beginnerleser eers betrokke raak by ‘n reeks, is hulle baie verlig as nog ‘n titel verskyn! Vir selflees of voorlees.  

 

Monday, November 27, 2017

Baas Baba tot sterre en planete


Frazee, Marla: Baas Baba se Baas( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaler Amelia de Vaal

Baas Baba word opgevolg met hierdie vermaaklike verhaal waarin Baas Baba onttroon word deur die nuwe babasussie. Sy hersstruktueer die hele huishouding as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte –HUB. Baas Baba is omgekrap dat sy nou al die aandag kry- om net te dink aan al haar byvoordele soos ‘n organiese spysenieringsdiens, stresbestuur, en ‘n voltydse sosiale mediaspan!  Sy het haar eie  privaat limousine, en niks wat hy doen laat die personeel hom raaksien nie. Totdat die HUB ingryp en hom help om weer deel van die gesin te voel, hy is mos haar ouer boetie en dierbaar vir haar.

Defnitief ‘n “tong-in-die-kies-storie “ wat die hele gesin kan geniet, want ken lesers maar nie te goed soortgelyke situasies nie. Hoogs aanbeveel.

Schaapman, Karina: Die Muishuis-by die kermis(PROTEA, 2017) Gefotografeer deur Allard Bovenberg. Afrikaans deur Shané Kleyn.

Die Muishuis, Sam en Julia  het eers verskyn om lesers te betower. In By die kermis  neem die twee muise ons weer saam na ‘n kleremaker, kaasfabriek, boekwinkel, ‘n Chinese restaurant, en veral na al die heerlikhede by die kermis soos ‘n spookhuis en mallemeule. ‘n 8jarige meisie op besoek by my het gister dadelik verdiep geraak in die verbeeldingryke wêreld wat so kunstig geskep is, met soveel detail in elke gefotografeerde oomblik, dat sy beswaarlik die boek kon toemaak.  

Hierdie reeks behoort in elke biblioteek/skool en huis waar kinders deur blootstelling leer om vir boeke lief te word. Kinders kan www.themousemansion.com besoek , asook die Mouse Mansion-blad op facebook en die kanaal op YouTube.

Schaapman, Karina: Die Muishuis- By die teater( PROTEA, 2017) . Afrikaans deur Shané Kleyn. Gefotografeer deur Eddo Hartmann.

‘n Gelukbringerklip wat Sam en Julia opgetel het moet Sam se senuwees help kalmeer vir sy optrede in die teater. Daar is die mooiste dubbelblad voorstelling van die teater om jou aan te vergaap! Ander situasies volg met ‘n besoek aan die rommelboer, ‘n suikerfees, appeltert, en ‘n verjaarsdag. Julia breek haar been met die skopfiets en  Sam besoek haar in die hospitaal.

Die skrywer behandel dus onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders, soos dat hul deel is van ‘n gemeenskap wat bestaan uit bure wat van hulle kan verskil maar nie ‘n bedreiging inhou nie. Jong lesers leer uit hierdie twee karakters se gedrag dat die lewe opwindend en interessant kan wees. Jy het net ‘n nuuskierige leergierige ingesteldheid nodig.  Die boeke is kunswerke geskep deur ‘n talentvolle skrywer. Absoluut juwele!

Sirett, Dawn: My eerste 100 woorde( LAPA, 2017).

‘n Pragtige kartonboek waarin babas en kleuters met behulp van illustrasies en fotos bekend gestel word aan hul liggaam, klere, speelgoed, kleure, etenstyd, hul huis, badtyd-en slaaptyd. Daarby kom ook plaasdiere, buite in die natuur, voertuie, troeteldiere en  wilde diere.

Daar is voldoende verskeidenheid ingesluit in hierdie eerste 100 woorde om hul aandag te hou. Elke illustrasie verskyn teen ‘n eie agtergrond wat dit laat uitstaan en die boek ‘n netjiese dog kleurvolle aantreklike voorkoms gee. Boeke met woorde is baie gewild en in aanvraag.

Martin, Peter: Bybel-speurder  en Jesus-speurder( PROTEA, 2017)Geïllustreer deur Peter Kent.

Hierdie twee titels is ook in Engels beskikbaar as Bible detective en Jesus detective.

Wat ‘n interessante manier om kinders bekend te stel  aan die karakters en geskiedenis van die Bybel in gedetailleerde illustrasies, elk op ‘n dubbelbladsy omring met figure en items uit die illustrasie wat kinders moet vind.

Ek het self probeer, en werklik so betrokke geraak dat mens jou moeilik kon wegskeur van so ‘n uitdagende en prettige situasie!

In Bybel-speurder leer jy van Noag, Abraham se nomadiese laer, die slawe in Egipte, Moses en die Tabernakel, Nasaret en word die geskiedenis in prente vertel tot en met die hawe van Caesarea. Elke  illustrasie word vervolgens verklein en  die antwoorde word genommer vir die ywerige speurders. ‘n Indeks verwys na dubblebladsynommers.  Hoogs aanbeveel vir tuis –en biblioteek/skool versamelings.      

Jacobs, Jaco:  Hoendervleis- grillerige stories en rympies( LAPA, 2017) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Weereens bewys Jaco Jacobs dat hy ‘n meester is met die vertel van stories wat kinders geniet. Veral as dit ‘n grillerige boek soos hierdie is wat jou hoendervleis laat kry, jou lekker laat skrik en gril, en selfs laat bibber van vrees!

Elke kort verhaaltjie het verassende elemente en betrap jou onverwags. Maja vind op ‘n eienaardige manier uit dat vampiere nie bestaan nie; hoekom Liza die hardste van almal in die fliek gegil het; dat ‘n vreeslike ding met jou kan gebeur as jy ‘n vaal seuntjie op skool boelie; is die man in die akkedispak dalk ‘n regtige akkedis; om te slaap in ‘n spookkamer en ‘n besoek te ontvang van twee hondjies net om later uit te vind hulle is lankal dood; om ‘n onnie soos Juffrou Grimbeek te hê mag dalk gevaarlik wees; en dat Tannie Gerda se handskoene jou dalk kan help om beter klavier te speel; en dalk bly daar regtig iets in die hangkas in Zack se kamer…

Die ideale kersgeskenk vir grilvrate . Hoogs aanbeveel.

Tienerfiksie:

Neser, Christien: Strikdas( LAPA, 2017)

Die negende boek in die reeks met Elle Kroon as hoofkarakter word verwelkom deur elke leser wat met Kondensmelk reeds ‘n aanhanger van Elle se avontuurlike lewe , later ook in Gravitas, geword het.

Elle is nou in haar matriekjaar en ook hoofmeisie van die skool. Die jaar behoort die beste ooit te wees, maar hulle geliefde hoof, mevrou Bender, word onverwags siek en die aaklige man, dokter Grimm,  met die strikdas neem waar as hoof.

Meneer Grimm bewys gou dat hy geen belangstelling toon om die skool se tradisies te laat voortleef nie. Hy het net een ambisie- Gravitas moet die beste wiskundeskool in die land word.

Mevrou Bender het Elle nie verniet gewaarsku dat dit ‘n bittersoet jaar gaan wees vir haar as hoofmeisie nie,en dat sy ‘n ysterlelie sal moet wees. Min het sy toe geweet hoe uitdagend dokter Grimm die jaar gaan maak, want sommer vanuit die staanspoor stamp hulle koppe.

Maar dit is juis hierdie konflik tussen die twee karakters wat die verhaal onderhoudend en interessant maak. Gaan Elle haar hoofmeisie-balkie behou?

Neser skryf goed, haar karakters is oortuigend en die verhaal boei tot die laaste bladsy. Mag Elle weer in ‘n volgende verhaal verskyn!

Nie-fiksie:

My ensiklopedie van baie belangrike dinge-vir slimkoppe wat alles wil weet(LAPA, 2017)Samesteller: Dorling Kindersley. Afrikaans deur Mia Oosthuizen.

Dorling Kindersley is bekend vir nie-fiksie boeke van gehalte, en stel weereens nie teleur nie. Dit is belangrik dat feiteboeke , veral ook in biblioteke nie verouderd raak nie. Die boek het in 2016 verskyn, en in 224 bladsye word inligting gegee oor planete, plekke van belang, diere, mense, myself en ‘n paar ander belangrike dinge soos kleure, vorms, babadiere, vlae, edelstene en sterretekens word ook bespreek. Interessant is  ook dat die top-10 lande –die grootste en kleinste gelys word, asook die Top-10 langste riviere, grootste woestyne, dodelike diere, en bedreigde diere. Die indeks beslaan 4 bladsye, gevolg deur ‘n lys van erkennings.

In die inhoudsopgawe word die verskillende onderwerpe in ‘n identifiserende kleur gemerk, en so kan die leser vining na die spesifieke seksie blaai. Die uitleg van die boek is uiters aantreklik waar getekende illustrasies afgewissel word met fotos sodat elke bladsy stimulerend en prikkelend werk.

Hierdie is werklik ‘n prag uitgawe.

Stowell, Louie en Allen, Peter: Die storie van sterre en planete( PROTEA, 2017). Afrikaans deur Amelia de Vaal.

Die eerste uitgawe verskyn in 2014 deur Usborne,en lesers word aangemoedig om die Usborne Quicklinks te gebruik.

Hierdie is ‘n onderwerp wat altyd inspireer. ‘n Mens bly maar betower deur die hemelruim, en die onderwerp word op ‘n heel interessante wyse bespreek. Vrae oor die ruimte word beantwoord in besprekings oor astronomie, planete, sterrekunde deur die eeue,ruimtereise, lewe in die ruimte, teleskope en ander tegnologie, en die storie van die heelal. ‘n Astronomiese tydlyn word gegee, gevolg deur sterrekaarte soos jy in ‘n rigting kyk gedurende spesifieke maande.

‘n Woordelys word gevolg deur ‘n indeks en lys van erkennings. Die boek is aantreklik uiteengesit, bv. met vinnige feite oor planete en ongewone inligting  geblok in ‘n soort van kantlyn effek wat dadelik jou aandag trek.’n Nuttige toevoeging tot nie-fiksie versamelings.       

 

         

 

Tuesday, November 7, 2017

Ligte pret vir kleintjies en 'n besondere jeugboek


Ligte pret vir die kleintjies! En ‘n besondere Jeugboek…

Wilde diere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia Oosthuizen.R80 elk.

Hierdie stewige kartonboek met versteekte diere is ‘n voorbeeld van die tipe boeke wat peuters tot boeke aangetrokke laat voel, en dit behoort in  elke tuis-en biblioteekversameling waar kinders geleer word om lief te word vir boeke.

Wilde diere word kortliks beskryf, en dan kan die kind deur die blokkie te stoot, die dier verder identifiseer. ‘n Krokodil, kameelperd, slang en apie word op ‘n interaktiewe manier ontmoet. Uiters geskik vir beginners.

Plaasdiere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia OOsthuizen

Plaasdiere  maak dit vir kleintjies groot pret om ‘n varkie, perd, koei en skaap se babas met die trek van die ingeboude blokkies te vind. Kinders geniet dit om iets te soek in ‘n boek, en bly dus betrokke by die storie. Hulle leer ook  verskillende diere ken, en die voorleser kan baie inligting oor die diere terselfdertyd vertel om die ervaring nog meer leersaam te maak. Hoogs aanbeveel.

Maartens, Wendy : Padda word kwaad ( LAPA, 2017.Illustrasies deur Zinelda McDonald.R50 elk.

18 titels verskyn in hierdie Ek lees self-reeks, o.a. ook Rooi Hen bak brood, Die drie rammetjies rof, Die gans wat goue eiers kon lê, Sprinkaan leer werk en Muis red Leeu se lewe.

Die reeks trek dadelik die aandag met die kleurvolle omslae waarop ‘n bytjie die titel van die reeks in die linkerkantste hoekie uitwys op ‘n kontrasterende agtergrond met die omslag se kleur. Die boekies hanteer maklik en die druk is geskik vir kinders  wat begin lees. Zinelda McDonald se illustrasies is vrolik, vol uitdrukking en lekker kleurvol. Elke boekie is regtig mooi om te sien, met natuurlik die beste bonus die lekker storietjie wat vertel word.

Wanneer Padda se seun deur Os doodgetrap word, verduidelik Gly aan haar dat ‘n reuse monster sy boetie doodgetrap het. Padda blaas haarself al groter op sodat Gly kan verduidelik hoe groot die monster nou regtig was, en daarby wil sy net almal oortuig dat niemand groter as sy is nie- totdat sy in duisend stukkies uitmekaar bars! ‘n Dure les het sy geleer- sy wou mos dink sy is groter as Os.

Handige boekies vir beginner lesers.

Vir bietjie ouer lesers, 7+ jariges:

Viljoen, Fanie: La di da, Lulu( LAPA, 2017) R120.

3 Titels het alreeds in hierdie gewilde reeks verskyn, naamlik Oe la la, Lulu; Bravo, Lulu en Oepse daisy, Lulu.

Elsbeth Eksteen is die illustreerder wat met elke Lulu storie se omslag fyntjies en in delikate pastelkleure jong meisies  betower. Dit is ook uiters gepas vir die hoofkarakter Lulu, want sy is ‘n talentvolle modeontwerper met wonderlike idees vir klere.

Die skool se spesiale verjaarsdagfees is haar geleentheid om vir die drompoppies nuwe uniforms te ontwerp. Lulu luister egter nie toe sy gevra word om die belangrike geleentheid nog mooier te maak nie, en sy verstaan dat sy ‘n poprokkie moet teken! Selfs toe sy aanbied om weer te probeer, moet sy uitvind dat ‘n ander kind die opdrag gekry het. Later moet sy uitvind wie die meisie is- gaan dit die einde van haar vriendskap met ‘n beste vriendin beteken?

Lekker ligte leesstof met net die regte tikkie spanning sodat lesers betrokke sal bly.

Vir ouer lesers:

Polleke, deur Guus Kuiker( PROTEA, 2017) R275. Afrikaans deur Martjie Bosman.

Vyf boeke in die Polleke reeks verskyn hier as een bundel, wat dit veral lekker maak vir die leser wat dadelik betower word deur die uitgesproke parmantige meisie Polleke wat self ook as verteller optree. Vir my is hierdie die beste jeugboek wat vanjaar verskyn het.

Polleke se ouers is geskei, en nou vind sy uit dat haar Meneer op haar ma verlief is. Mimoen is haar vriend en van Marokko afkomstig, sodat daar gedurigdeur ‘n botsing tussen die twee kulture plaasvind, want Mimoen wil nie meer met haar uitgaan nie omdat sy ‘n digter wil word, in sy kultuur mag dit  nie gebeur dat ‘n vrou ‘n digter is nie!

En Polleke skryf die mooiste gedigte wat telkens in die boek verskyn as sy iets baie spesiaal wil vertel. Die boek is deurtrek met Polleke se idees oor omtrent enige onderwerp denkbaar- pa’s, ‘n jonger sussie Hilletjie, geloof, oor Grietjie wat dragtig is, haar Oupa en Ouma;  haar pa Spiek vir wie sy baie lief is want hy is ook ‘n digter, oor haar beste vriendin Caro en die lawwe speletjies wat hulle speel; hoe sy van bome leer en mooi kan bid; ‘n kuier by Meneer se ma in haar beste rooi rok; oor die seun Tom op die plaas en oor haar gunsteling lekkers- drop; oor ‘n straatpartytjie en nog veel meer…

Hierdie verhaal oor ‘n Nederlandse dogter is ‘n duidelike voorbeeld daarvan dat basiese menslike behoeftes en emosies geld as ‘n universele konneksie tussen mense en lesers orals in die wêreld.

Polleke se verhouding met haar probleem-pa, die egskeiding, haar ma se nuwe verhouding, haar liefde vir Mimoen en Consuela uit Meksiko; haar verhouding met haar Oupa en Ouma, haar  liefde vir die kalfie wat nou ook Polleke heet; vind aanklank by soortgelyke situasies in elke kultuur.

Die skrywer het ‘n besondere styl wat jou raak deur juis die eenvoud en absolute eerlikheid van Polleke se taal. Sy het ‘n heerlike humorsin, en maak dikwels die snaakste en onverwagte verfrissende opmerkings.

Kuijer het verskeie toekennings vir sy Polleke-boeke ontvang, en die boeke is in Nederland verfilm.

Een van Polleke se gediggies:

“Toe ek klein was

Kon ek enigiets doen

En wat ek nie kon doen nie,

Kon ek nie

Omdat ek klein was.”        

Die elfde hoofstuk sê slegs: Ek is nou dertien.

Na haar geliefde Oupa se dood skryf sy:

“Iets is nou weg

wat ek vroeër geniet het,

iets kleins, iets sags,

‘n mooi, vrolike lied.

Daar waar dit was,

is nou ‘n kuil

en op die bodem skuil

‘n onverwagse verdriet”.

Hoogs aanbeveel virjongmense en volwassenes.   Bosman se vertaling is in die kol!

 

Lona Gericke.