Friday, June 23, 2017

Pasop vir die tande-terroris!


Walliams, David: Die tande-terroris( PROTEA, 2017)Illustrasies deur Tony Ross .

Ses titels deur Walliams het al sedert 2015 by PROTEA  verskyn, en elke boek is met groot genoegdoening gelees. Die Tande-terroris is geen uitsondering nie-“dit is ‘n gruwelike storie met baie opgemaakte woorde!”

Stel jou voor: vreemde goed gebeur in die nag in hierdie dorp- die tande wat kinders onder hul kussings los vir die tandfeetjie word deur aaklikge goeters soos dooie slakke en spinnekoppe vervang. Toe ‘n nuwe tandarts Dr. Payne haar verskyning maak word Alfie gou een van haar slagoffers- hy het ‘n mondvol slegte tande na ‘n pynlike ondervinding met ‘n vorige tandarts, maar niks het hom voorberei vir waartoe Dr. Payne in staat is nie!  Hy is nou gedetermineerd om uit te vind wie die booswig is wat die kinders so treiter, en Raj die winkelier skenk sy tand vir die proefneming. Alfie moet ook nog die nuuskierige maatskaplike werker Winnie en sy siek pa en Gabz , sy vriendin hanteer. Dit word letterlik’n heksejag en baie gevaarlik vir Gabz en Alfie.

Walliams se vrugbare skeppende verbeelding en fyn humorsin stel weer nie teleur nie! Alfie se ondervinding in Dr. Payne se stoel sal menige leser nagmerries gee- en groot dankbaarheid dat sy net in hierdie storie lewendig word.  ‘n Grillerige vreesaanjaende leeservaring soos min. 

     

Thursday, June 15, 2017

Van Apies na 'n rooikop en handgranaat...


Haden, Rosamund: Die apies se  dieretrein( Tafelberg, 2017) Illustrasies deur Tony Pinchuck

“Die apies nooi elke enkele dier na hulle pretpark met plesier…die tjoe-tjoetrein sal almal aflaai by Hotel Aa-Aai in Kokosneutbaai.”

So begin ‘n onvergeetlike prettige reis vir al die diere, geroep deur die opgewonde Olifant. Gou is elke wa tjok en blok vol; en as die dieretrein op die stasie stop, storm die hele spul na die hotel waar oneindig baie plesier op hul wag.

Tony Pinchuck se illustrasies komplementeer die teks in rym met diere wat elkeen geïdentifiseer kan word, getrou aan die spesifieke dier se voorkoms. Elkeen van die treinwaens gee hy ‘n eie identiteit met verskillende versierings getooi. Daar is soveel detail , beweging en kleur dat ek net kan sien hoe kinders hul gaan vergaap aan die pragtige diere , die oulike kleurvolle trein en uiteindelik saam met die diere al die lekker pret en plesier by die hotel gaan geniet!  Die skutblaaie met die ry bome elk met ‘n apie op sy stam is treffend en duidelik is hierdie  ‘n illustreerder met ‘n agtergrond in argitektuur. Die bladsye is gevul met detail, maar ‘n balans word deurgaans gehandhaaf tusssen die verkillende elemente.  Hoogs aanbeveel. Baie spesiaal.

Ferreira, Annelie:  Die rooikop, dieleeu en die handgranaat( LAPA, 2017)

Annelie Ferreira het reeds twee keer die Sanlamprys verower vir haar jeugboeke, asook die M.E.R prys vir Tot siens, koning Arthur.

Adele haar hoofkarakter, is ‘n tiener met 3 belangrike vrae- Kan ‘n meisie soos sy ‘n heldin wees?; Wanneer verander die lewe die meeste? Gedurende bloedige oomblikke, of deur kuns en skoonheid? En dan nog ‘n moeiliker vraag: waar het die leeu vandaan gekom?!

Saam met haar twee beste vriende Li en Ruan  neem sy deel aan die gewone skoolaktiwiteite, maar ook leer die leser hul huislike omstandighede ken wat verskil waar Li van Sjinese afkoms is en Ruan gay. Adele se ma is een van die snoepie-tannies by die skool.  Haar kunsonderwyseres hou skielik nie meer van haar kuns-pogings nie; en dan is daar die reuse leeu wat sy in hul tuin gesien het en volgens die res ’n blote verbeeldingsvlug was.  

Haar boetie Hendrie wil met alle mag ‘n ontdekkingsreisiger word; Li is ongemaklik met Hank die ou wat by haar broer Yan kuier en haar gedurig agtervolg.

Die verhaal beweeg sommer vanaf die afskop teen ‘n vinnige tempo,en jy as leser moet uithaal om by te hou!

 Adele  kry ‘n antwoord op al haar vrae-  meestal lekker antwoorde,  maar lekker wat voorafgegaan is deur ‘n erg traumatiese ervaring. Soos sy tereg opmerk:

“Miskien verander die lewe op die ou end nie die meeste in bloedige oomblikke of deur kuns en skoonheid nie, maar deur dapperheid. En die dapperste ding kan dalk wees om te glo jy maak saak . En dat jy die moeite werd is om liefgehê te word”.

‘n Gemaklike skryfstyl, daar is soms oorspronklike raak opmerkings deur die karakters wat elkeen geloofbaar is as tipiese tieners ; sy skryf met  humor en verskaf ook ‘n element van spanning wat goed gehandhaaf word, gevolg deur ‘n verassende  ontplooiing aan die einde. Vir my is dit nie heeltemaal so goed soos die vorige twee jeugverhale nie; die onsekerheid oor die bestaan van die leeu in die tuin word nie sterk genoeg deur die verloop van die verhaal gedra nie. Want natuurlik wil jy die hele tyd weet en wonder was daar regtig’n leeu?, en hierdie vraag vervaag  ‘n bietjie teenoor ander gebeure. Tog is dit ’n lekker ligte vinnig-bewegende leeservaring met genoeg interessante kinkels om Ferreira se lesers te boei.