Thursday, May 25, 2017

'n Maanlig-meermin in die Karoo


Goosen, Troula: Maanlig-meermin(  Tafelberg, 2017) R140

Kate se pa besluit onverwags na hy ‘n brief ontvang om hul vakansie in Durban te kanselleer en na sy geboorteplaas in die Karoo, Kaimanskuil te gaan. Amber vergesel Kate, en sommer met die aankoms op die plaas lyk dinge spookagtig en onheilspellend: Ant Jannetjie ontvang hulle baie onvriendelik en waarsku haar pa dat hulle nie moet bly nie; Donovan is die plaasseun wat die Saksofoon so mooi bespeel; die pragtige Sirene woon ook in die huis; die buurplaas is die tuiste van die seun Herman en sy ma. Daar is ook verwysings na ‘n Karoomeermin, Nyah teen wie sy  gewaarsku word.

Die verhaal ontwikkel in intriges tussen die paar jongmense; Kate wat bonatuurlike ervarings het; soektogte en verdwynings en  ‘n testament wat die ou man iewers versteek het…  wie was Kate se ma?  Waarom is die waterval in die Kloof so belangrik? Gaan Kate oorleef of ingetrek word by die meermin se behoeftes?

Ligte leesstof met ‘n verbeeldingryke mengsel van avontuur, fantasie, ‘n moontlike liefdesintrige en skrikwekkende ervari ngs.  Die boek hardloop met ‘n gallop tot die einde! Troula Goosen het defnitief ‘n baie vrugbare verbeelding, maar nie noodwendig ‘n sterk literêre inslag nie.

Smit, Louise: Haas Das se nuuskas( H&R, 2017) R140 Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Haas Das se Nuuskas maak ‘n belangrike deel van elke dier in Diereland se lewe uit- om ses uur is dit hul geleentheid om te sien wat alles in Diereland gebeur.

Koning Leeu bespreek die nuus met Haas Das en vertel van sy samesprekings met verskillende diere- Grootoom Flapoor Olifant, oupa Dassie en Bulletjie Wildebees het elkeen ‘n klagte waarna die koning moet luister: grotendeels gaan dit hier om oud word en min waardering vir hulle wat altyd die ander diere beskerm het, en hulle moet nie onnodig skrikgemaak word nie.

Meggie Mossie kry gedurig Piet-my-vrou se kleintjies in haar nes om te help grootmaak, en al wat Moeder Raaf doen is om haar te kritiseer. Piet Muis doen die weerverslag, en vir sportnuus is daar hasie Kwassie wat aan n marathon oorsee gaan deelneem.

Hierdie is die eerste titel in ‘n nuwe reeks wat ideaal is vir kinders wat  self begin lees of vir voorlees.

Vian Oelofsen se illustrasies is oorspronklik, lewendig, vol humor en maak die hele boek toeganklik en lekker om te lees. Die diere se gesigsuitdrukkings spreek boekdele; Koning Leeu is deurgaans ‘n groot teenwoordigheid; en Haas Das met sy helderblou das met ‘n silwer ster daarop lyk absoluut die outoriteit as nuusleser!     ‘n Baie aantreklike boek.   

    

Monday, May 15, 2017

Mooi , mooi en mooier boeke!


Nolte, Noreen: Om te dans ( LAPA, 2017)

Dit is so lekker om n debuut roman vir tieners te lees, en opgewonde te word oor die skrywer – sy het ‘n goed gebalanseerde boek geskryf waar ‘n mooi balans gehou word tussen Lisa se huislike dramas, die nuwe skool en nuwe uitdagings waar sy begin swem en aanfanklik ook nie weer ballet wil doen nie,vir redes wat later duidelik word. Veral mooi is die verfrissende verhouding met haar Ouma ; laasgenoemde se lewensfilosofie is  dat probleme verdwyn as jy doelgerig en dapper daarna kyk. Om nie te praat van die vriendskap wat ontwikkel tussen haar en die droomseun Jaco nie! Soos in alle tiener /skool situasies is daar die gebruiklike jaloerse mooi meisie wat Lisa probeer benadeel met ‘n onwaar skinderstorie; die getroue vriendinne wat haar bystaan; die uitdagings van skoolwerk , swem en ballet oefen, en geleenthede om te presteer op ‘n gekose gebied.

Lisa verteenwoordig sovele jongmense wat probeer vrede maak met ‘n verbrokkelde huislike omstandighede ; onverwagse siektes of ontrouheid in ‘n huwelik, aanpassing by ‘n nuwe skool en of nuwe omstandighede… die skrywer moet erkenning kry vir ‘n baie oortuigende storie waar dramatiese gebeure  nooit mooi oomblikke en verhoudings vertroebel nie. 

Die verhaal lees lekker en behoort aanklank by jong tieners te vind. Daar is altyd plek vir lekker ontvlugting en ‘n tikkie romanse in elkeen se lewe! Noreen Nolte kan gerus weer skryf!

Ferreira, Henry en Ackermann, Alistair: Cowboy Koekemoer van die Klein Karoo en die petrol padda( LAPA, 2017)

Die vorige twee titels in die reeks het ATKV- Kinderboektoekennings verower, en was soos ‘n fris briesie in die genre vir jong lesers 7+.  Want Cowboy Koekemoer en sy getroue kameelperd Shorty  leef rustig in die Karoo en geniet hul avonture saam; en daar is altyd ‘n geleentheid om nog ‘n vreemde ervaring te beleef. In hierdie verhaal word boere se brandstof gesteel deur Piet Parasiet, en een nag word die twee gekonfronteer met twee vlammende rooi oë wat skielik die lug in skiet soos twee vuurpyle!  Nou verskyn ‘n massiewe gedaante wat lyk soos’n padda maar reusagtig is,  aan die twee maats. Dit is die begin van ‘n nuwe avontuur en die geleentheid om die petroldief te ontmasker.

As ‘n beginner leesboekie is die aanbieding ideaal- strokiesprent-agtige illustrasies vul die teks aan; die teks is ook heel oorspronklik op die bladsye geplaas om die leesproses nog aangenamer te maak. ‘n Welkome terugkeer van ‘n geliefde karaktertjie.

Hartmann, Wendy en Theron, David: Die fantastiese avonture van Theo die kat ( LAPA, 2017)

Toe die drie stories destyds gepubliseer is kan ek nog goed onthou dat veral Theo die biblioteekkat een van my gunsteling stories was. Hier verskyn ‘n omnibus met al drie stories, nuut geïllustreer deur David Theron.

Theo die biblioteekkat hou van lees. Hy boer in die biblioteek. Toe Mevrou Zuurpruim al die katte nooi om by haar in te trek, is Theo dadelik op sy hoede. Hy besef dat sy die katte gevange geneem het,en hy moet ‘n plan beraam om hulle te red. Met haar uit die pad woon al die katte indie enorme huis Kietziekatzie, behalwe Theo. Hy lees grillerige stories vir die ander katte voor, totdat hulle ontvoer word en Theo moet help. Gelukkig is Fransiena die vark byderhand om ook te help.

Die vragmotor van die Boozwig-broers verskyn in die dorp met ‘n plakkaat dat hulle sirkusdiere benodig om toertjies te doen. Die diere is natuurlik baie opgewonde oor so ‘n geleentheid, maar Theo sien ‘n versteekte plakkaat wat hom laat besef dat die broers ander planne met die diere het…

Lekker ligte leesvermaak vir beginners. David Theron se illustrasies gee ‘n baldadige aweregse kinder-vriendelike atmosfeer aan die omnibus. Bibliotekaresse kan die boek ook handig vind vir voorlees tydens biblioteek-orientasies.

Vels, Verna: Liewe Heksieen die sterretjieskombuis( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Teen ‘n pers agtergrond op die treffende voorblad verskyn Liewe Heksie end die Koningin van Feetjieland om kleuters te verwelkom na nog ‘n heerlike Liewe Heksie-avontuur. Sy en haar kat Matewis wil haar huis ook verf ter ere van die Koningin van Feëland se besoek- selfs die silwer Roos word blinkgevryf. Maar toe Heksie die swaar klip van haar huis se dak afstoot, waai die dak weg. Daardie aand geniet sy dit om na die sterre te kyk deur die gat in die dak. ‘n Feëtjie daag op as ‘n onverwagse gas en sy geniet die sterrehemel saam met hulle. Tot haar verbasing ontdek sy by die paleis dat dit sowaar die Feëkoningin is wat haar gas was. Heksie kry ‘n nuwe dak van glas, en sy is seker sy is die enigste heksie met ‘n “sterretjieskombuis”.

Pragtige illustrasies deur Oelofsen maak die boek’n lus vir die oog! Die wasige vlerkies van die Feëkoningin is so mooi! Elke kind sal net wil kyk en kyk na al die mooi in hierdie boek waar elke bladsy grensloos gevul is met sterk sprekende prente. Hoogs aanbeveel.

Smit, Louise: Bennie Boekwurm vertel lekker stories 2( H&R, 2017) Illustrasies deur Johann Strauss.

In hierdie aantreklike versameling word ingesluit  Missie Muis se verjaarsdagpartytjie, Tokka Kabouter maak grappies, Babet By hou van dans en die Hondjie met die rooi halsbandjie.

Die kinders roep altyd vir Bennie Boekwurm om uit sy tonnelhuis diep onder die grond te voorskyn te kom om vir hulle stories te lees. Hy soek altyd sy bril, maar die kinders is geduldig, wand die wag is altyd die moeite werd!

Ratte Rot moet nie weet van Missie se verjaarsdagpartytjie nie, want hy wil net vreet en vreet. Sy bak geurige kolwyntjies, en hy word nader gelok deur die reuk. Sy kry ‘n spesiale apiekoek vir haar verjaarsdag, maar Ratta Rot steel die koek. Gelukkig bring die gaste eetbare geskenke en saam skep hulle ‘n anderster lekker verjaarsdagkoek!

Tokka Kabouteris lief om grappies te maak- so doen hy die handeloop dat sy nuwe skoene nie vuil word nie, skuif tussen sy Oupa se tuinkabouters in wat te  koop is om ‘n moontlike koper skrik te maak; maak Juffrou Lollies bang met sy klei-slang; en gebruik stinkbessies om Ouma se teepartytjie meer kleur te gee.

Babet By kan maar netnie haar take as bytjie  reg doen nie- as sy nie te ver vlieg nie,dans sy te veel. Gelukkig vir haar kry die Koningin haar jammer en laat haar toe om al haar talente te gebruik- sy kan bedags nektar bymekaarmaak, en saans vir die Koningin dans en sing.

Ouma Hanna word oppad huistoe gevolg deur ‘n hondjie op straat. Hy doen die snaakste toertjies, en sy is so gelukkig dat sy nou geselskap het. Sy weet sy moet sy regte eienaars soek. Sy ontdek hy is Herkules die Wonderhond, en behoort aan sirkus Bruno Bossel.

Toe sy en die kinders daardie aand die sirkus besoek, weier hy om sy toertjies te doen, behalwe as sy of die kinders hom die toertjies laat doen. ‘n Woedende Meneer Bossel besluit toe maar die hondjie wil klaarblyklik liewer by ouma Hanna bly- hy is nou haar hondjie.

Afgesien van die oortuigende stories, maak Strauss se vrolike kleurvolle illustrasies hiervan ‘n heerlike belewenis! Die bytjies tussen die pragtige pers blomme; Babet se stout gesiggie; Ouma Hanna in haar pers rok met die hondjie wat haar so vriendelik begroet; Tokka wat so op sy hande loop met sy nuwe swart skoene, elk met ‘n klokkie op die skoen se punt; en Missie Muis so ‘n regte dametjie in teenstelling met die rot met sy sluwe gepunte gesig. Hierdie is werklik ‘n boek wat kinders sal koester.    

 

Lona Gericke 15 Mei 2017