Tuesday, November 28, 2017

Lillie die heksie met liedjies vir peuters


Smit, Gertie(comp.) : Liedjies vir pikkies en peuters( Tafelberg, 2017)

40 Versies uit die boek Rympies vir pikkies en peuters is getoonset vir 1-3jariges. Die boek bevat ook ‘n CD verwerk in saamsing-formaat met die stem van  Marlie Katzke.

Onderwerpe in 20 afdelings behandel baie van die onderwerpe wat vir die kleintjies belangrik is, soos hulle lyfies, gesin, die huis, troeteldiere, speeltyd, en gesonde kos. Onderwysers en ouers wat wil saamspeel of sing, sal saam met die kinders groot pret hê.

Persoonlik sou ek vir die ouerdom seisoene , insekte, en veiligheid bv. kon uitlaat,  en meer persoonlike situasies soos tande borsel, badtyd, ‘n eina, ingesluit het. Ek mis ook die pa- figuur en miskien ‘n ouer sussie of boetie.   

‘n Handige en bruikbare toevoeging tot materiaal vir die heel kleintjies.

Die illustrasies deur Astrid en Nadia Blumer gee kleur aan elke  situasie.

Onder die opskrif opvoedkundige motivering word die kenmerke van kinderliedjies, vir wie dit bedoel is en hoe dit gebruik kan word, behandel.

Baie duidelik is Gertie Smit ‘n ervare  opvoedkundige met ‘n liefde vir kinders wat hier duidelik uitgebeeld word. Hoogs aanbeveel vir tuis-en klaskamers, en biblioteke.

Knister: Lillie die heksie in Wonderland( PROTEA, 2017) Illustrasies deur Birgit Rieger.

17 titels het alreeds verskyn by PROTEA uitgewers, en met vertalings in 40 tale is die karaktertjie internasionaal baie geliefd.

Met haar gebruiklike sin vir avonture en nuuskierigheid, besluit Lillie vergesel van Hektor die drakie besoek hulle die sneeubedekte wonderland waar geheime op hul wag , want gou hoor hulle by Neutella die eekhoring dat die koning van Lente, Somer en Herfsland , koning Origano  gegaan het om die bergbewoners te help, en toe nooit weer teruggekeer het nie. Daar is gepraat van groot nood, honger en ysige koue.

Ons dapper helde besluit toe om self ondersoek in te stel, Ola die Ysingwekkende heers glo daar – ‘n wrede despot met geen genade of simpatie vir lewe nie.   ‘n Hoë muur omring die land van verskrikking, en en die twee moet by die twee hekwagte, ysbere, verby kom deur elke keer ‘n raaisel op te los. Sal hulle daarin slaag om koning Origano op te spoor? Wat is werklik die situasie in hierdie ysige plek?

Goed versorgde boeke met die karaktertjie Lillie as boekmerk, en met  heel aantreklike kindervriendelike illustrasies . As ‘n beginnerleser eers betrokke raak by ‘n reeks, is hulle baie verlig as nog ‘n titel verskyn! Vir selflees of voorlees.  

 

Monday, November 27, 2017

Baas Baba tot sterre en planete


Frazee, Marla: Baas Baba se Baas( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaler Amelia de Vaal

Baas Baba word opgevolg met hierdie vermaaklike verhaal waarin Baas Baba onttroon word deur die nuwe babasussie. Sy hersstruktueer die hele huishouding as die nuwe Hoof Uitvoerende Beampte –HUB. Baas Baba is omgekrap dat sy nou al die aandag kry- om net te dink aan al haar byvoordele soos ‘n organiese spysenieringsdiens, stresbestuur, en ‘n voltydse sosiale mediaspan!  Sy het haar eie  privaat limousine, en niks wat hy doen laat die personeel hom raaksien nie. Totdat die HUB ingryp en hom help om weer deel van die gesin te voel, hy is mos haar ouer boetie en dierbaar vir haar.

Defnitief ‘n “tong-in-die-kies-storie “ wat die hele gesin kan geniet, want ken lesers maar nie te goed soortgelyke situasies nie. Hoogs aanbeveel.

Schaapman, Karina: Die Muishuis-by die kermis(PROTEA, 2017) Gefotografeer deur Allard Bovenberg. Afrikaans deur Shané Kleyn.

Die Muishuis, Sam en Julia  het eers verskyn om lesers te betower. In By die kermis  neem die twee muise ons weer saam na ‘n kleremaker, kaasfabriek, boekwinkel, ‘n Chinese restaurant, en veral na al die heerlikhede by die kermis soos ‘n spookhuis en mallemeule. ‘n 8jarige meisie op besoek by my het gister dadelik verdiep geraak in die verbeeldingryke wêreld wat so kunstig geskep is, met soveel detail in elke gefotografeerde oomblik, dat sy beswaarlik die boek kon toemaak.  

Hierdie reeks behoort in elke biblioteek/skool en huis waar kinders deur blootstelling leer om vir boeke lief te word. Kinders kan www.themousemansion.com besoek , asook die Mouse Mansion-blad op facebook en die kanaal op YouTube.

Schaapman, Karina: Die Muishuis- By die teater( PROTEA, 2017) . Afrikaans deur Shané Kleyn. Gefotografeer deur Eddo Hartmann.

‘n Gelukbringerklip wat Sam en Julia opgetel het moet Sam se senuwees help kalmeer vir sy optrede in die teater. Daar is die mooiste dubbelblad voorstelling van die teater om jou aan te vergaap! Ander situasies volg met ‘n besoek aan die rommelboer, ‘n suikerfees, appeltert, en ‘n verjaarsdag. Julia breek haar been met die skopfiets en  Sam besoek haar in die hospitaal.

Die skrywer behandel dus onderwerpe wat belangrik is vir die belewingswêrelde van kinders, soos dat hul deel is van ‘n gemeenskap wat bestaan uit bure wat van hulle kan verskil maar nie ‘n bedreiging inhou nie. Jong lesers leer uit hierdie twee karakters se gedrag dat die lewe opwindend en interessant kan wees. Jy het net ‘n nuuskierige leergierige ingesteldheid nodig.  Die boeke is kunswerke geskep deur ‘n talentvolle skrywer. Absoluut juwele!

Sirett, Dawn: My eerste 100 woorde( LAPA, 2017).

‘n Pragtige kartonboek waarin babas en kleuters met behulp van illustrasies en fotos bekend gestel word aan hul liggaam, klere, speelgoed, kleure, etenstyd, hul huis, badtyd-en slaaptyd. Daarby kom ook plaasdiere, buite in die natuur, voertuie, troeteldiere en  wilde diere.

Daar is voldoende verskeidenheid ingesluit in hierdie eerste 100 woorde om hul aandag te hou. Elke illustrasie verskyn teen ‘n eie agtergrond wat dit laat uitstaan en die boek ‘n netjiese dog kleurvolle aantreklike voorkoms gee. Boeke met woorde is baie gewild en in aanvraag.

Martin, Peter: Bybel-speurder  en Jesus-speurder( PROTEA, 2017)Geïllustreer deur Peter Kent.

Hierdie twee titels is ook in Engels beskikbaar as Bible detective en Jesus detective.

Wat ‘n interessante manier om kinders bekend te stel  aan die karakters en geskiedenis van die Bybel in gedetailleerde illustrasies, elk op ‘n dubbelbladsy omring met figure en items uit die illustrasie wat kinders moet vind.

Ek het self probeer, en werklik so betrokke geraak dat mens jou moeilik kon wegskeur van so ‘n uitdagende en prettige situasie!

In Bybel-speurder leer jy van Noag, Abraham se nomadiese laer, die slawe in Egipte, Moses en die Tabernakel, Nasaret en word die geskiedenis in prente vertel tot en met die hawe van Caesarea. Elke  illustrasie word vervolgens verklein en  die antwoorde word genommer vir die ywerige speurders. ‘n Indeks verwys na dubblebladsynommers.  Hoogs aanbeveel vir tuis –en biblioteek/skool versamelings.      

Jacobs, Jaco:  Hoendervleis- grillerige stories en rympies( LAPA, 2017) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Weereens bewys Jaco Jacobs dat hy ‘n meester is met die vertel van stories wat kinders geniet. Veral as dit ‘n grillerige boek soos hierdie is wat jou hoendervleis laat kry, jou lekker laat skrik en gril, en selfs laat bibber van vrees!

Elke kort verhaaltjie het verassende elemente en betrap jou onverwags. Maja vind op ‘n eienaardige manier uit dat vampiere nie bestaan nie; hoekom Liza die hardste van almal in die fliek gegil het; dat ‘n vreeslike ding met jou kan gebeur as jy ‘n vaal seuntjie op skool boelie; is die man in die akkedispak dalk ‘n regtige akkedis; om te slaap in ‘n spookkamer en ‘n besoek te ontvang van twee hondjies net om later uit te vind hulle is lankal dood; om ‘n onnie soos Juffrou Grimbeek te hê mag dalk gevaarlik wees; en dat Tannie Gerda se handskoene jou dalk kan help om beter klavier te speel; en dalk bly daar regtig iets in die hangkas in Zack se kamer…

Die ideale kersgeskenk vir grilvrate . Hoogs aanbeveel.

Tienerfiksie:

Neser, Christien: Strikdas( LAPA, 2017)

Die negende boek in die reeks met Elle Kroon as hoofkarakter word verwelkom deur elke leser wat met Kondensmelk reeds ‘n aanhanger van Elle se avontuurlike lewe , later ook in Gravitas, geword het.

Elle is nou in haar matriekjaar en ook hoofmeisie van die skool. Die jaar behoort die beste ooit te wees, maar hulle geliefde hoof, mevrou Bender, word onverwags siek en die aaklige man, dokter Grimm,  met die strikdas neem waar as hoof.

Meneer Grimm bewys gou dat hy geen belangstelling toon om die skool se tradisies te laat voortleef nie. Hy het net een ambisie- Gravitas moet die beste wiskundeskool in die land word.

Mevrou Bender het Elle nie verniet gewaarsku dat dit ‘n bittersoet jaar gaan wees vir haar as hoofmeisie nie,en dat sy ‘n ysterlelie sal moet wees. Min het sy toe geweet hoe uitdagend dokter Grimm die jaar gaan maak, want sommer vanuit die staanspoor stamp hulle koppe.

Maar dit is juis hierdie konflik tussen die twee karakters wat die verhaal onderhoudend en interessant maak. Gaan Elle haar hoofmeisie-balkie behou?

Neser skryf goed, haar karakters is oortuigend en die verhaal boei tot die laaste bladsy. Mag Elle weer in ‘n volgende verhaal verskyn!

Nie-fiksie:

My ensiklopedie van baie belangrike dinge-vir slimkoppe wat alles wil weet(LAPA, 2017)Samesteller: Dorling Kindersley. Afrikaans deur Mia Oosthuizen.

Dorling Kindersley is bekend vir nie-fiksie boeke van gehalte, en stel weereens nie teleur nie. Dit is belangrik dat feiteboeke , veral ook in biblioteke nie verouderd raak nie. Die boek het in 2016 verskyn, en in 224 bladsye word inligting gegee oor planete, plekke van belang, diere, mense, myself en ‘n paar ander belangrike dinge soos kleure, vorms, babadiere, vlae, edelstene en sterretekens word ook bespreek. Interessant is  ook dat die top-10 lande –die grootste en kleinste gelys word, asook die Top-10 langste riviere, grootste woestyne, dodelike diere, en bedreigde diere. Die indeks beslaan 4 bladsye, gevolg deur ‘n lys van erkennings.

In die inhoudsopgawe word die verskillende onderwerpe in ‘n identifiserende kleur gemerk, en so kan die leser vining na die spesifieke seksie blaai. Die uitleg van die boek is uiters aantreklik waar getekende illustrasies afgewissel word met fotos sodat elke bladsy stimulerend en prikkelend werk.

Hierdie is werklik ‘n prag uitgawe.

Stowell, Louie en Allen, Peter: Die storie van sterre en planete( PROTEA, 2017). Afrikaans deur Amelia de Vaal.

Die eerste uitgawe verskyn in 2014 deur Usborne,en lesers word aangemoedig om die Usborne Quicklinks te gebruik.

Hierdie is ‘n onderwerp wat altyd inspireer. ‘n Mens bly maar betower deur die hemelruim, en die onderwerp word op ‘n heel interessante wyse bespreek. Vrae oor die ruimte word beantwoord in besprekings oor astronomie, planete, sterrekunde deur die eeue,ruimtereise, lewe in die ruimte, teleskope en ander tegnologie, en die storie van die heelal. ‘n Astronomiese tydlyn word gegee, gevolg deur sterrekaarte soos jy in ‘n rigting kyk gedurende spesifieke maande.

‘n Woordelys word gevolg deur ‘n indeks en lys van erkennings. Die boek is aantreklik uiteengesit, bv. met vinnige feite oor planete en ongewone inligting  geblok in ‘n soort van kantlyn effek wat dadelik jou aandag trek.’n Nuttige toevoeging tot nie-fiksie versamelings.       

 

         

 

Tuesday, November 7, 2017

Ligte pret vir kleintjies en 'n besondere jeugboek


Ligte pret vir die kleintjies! En ‘n besondere Jeugboek…

Wilde diere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia Oosthuizen.R80 elk.

Hierdie stewige kartonboek met versteekte diere is ‘n voorbeeld van die tipe boeke wat peuters tot boeke aangetrokke laat voel, en dit behoort in  elke tuis-en biblioteekversameling waar kinders geleer word om lief te word vir boeke.

Wilde diere word kortliks beskryf, en dan kan die kind deur die blokkie te stoot, die dier verder identifiseer. ‘n Krokodil, kameelperd, slang en apie word op ‘n interaktiewe manier ontmoet. Uiters geskik vir beginners.

Plaasdiere( LAPA, 2017) Afrikaans deur Mia OOsthuizen

Plaasdiere  maak dit vir kleintjies groot pret om ‘n varkie, perd, koei en skaap se babas met die trek van die ingeboude blokkies te vind. Kinders geniet dit om iets te soek in ‘n boek, en bly dus betrokke by die storie. Hulle leer ook  verskillende diere ken, en die voorleser kan baie inligting oor die diere terselfdertyd vertel om die ervaring nog meer leersaam te maak. Hoogs aanbeveel.

Maartens, Wendy : Padda word kwaad ( LAPA, 2017.Illustrasies deur Zinelda McDonald.R50 elk.

18 titels verskyn in hierdie Ek lees self-reeks, o.a. ook Rooi Hen bak brood, Die drie rammetjies rof, Die gans wat goue eiers kon lê, Sprinkaan leer werk en Muis red Leeu se lewe.

Die reeks trek dadelik die aandag met die kleurvolle omslae waarop ‘n bytjie die titel van die reeks in die linkerkantste hoekie uitwys op ‘n kontrasterende agtergrond met die omslag se kleur. Die boekies hanteer maklik en die druk is geskik vir kinders  wat begin lees. Zinelda McDonald se illustrasies is vrolik, vol uitdrukking en lekker kleurvol. Elke boekie is regtig mooi om te sien, met natuurlik die beste bonus die lekker storietjie wat vertel word.

Wanneer Padda se seun deur Os doodgetrap word, verduidelik Gly aan haar dat ‘n reuse monster sy boetie doodgetrap het. Padda blaas haarself al groter op sodat Gly kan verduidelik hoe groot die monster nou regtig was, en daarby wil sy net almal oortuig dat niemand groter as sy is nie- totdat sy in duisend stukkies uitmekaar bars! ‘n Dure les het sy geleer- sy wou mos dink sy is groter as Os.

Handige boekies vir beginner lesers.

Vir bietjie ouer lesers, 7+ jariges:

Viljoen, Fanie: La di da, Lulu( LAPA, 2017) R120.

3 Titels het alreeds in hierdie gewilde reeks verskyn, naamlik Oe la la, Lulu; Bravo, Lulu en Oepse daisy, Lulu.

Elsbeth Eksteen is die illustreerder wat met elke Lulu storie se omslag fyntjies en in delikate pastelkleure jong meisies  betower. Dit is ook uiters gepas vir die hoofkarakter Lulu, want sy is ‘n talentvolle modeontwerper met wonderlike idees vir klere.

Die skool se spesiale verjaarsdagfees is haar geleentheid om vir die drompoppies nuwe uniforms te ontwerp. Lulu luister egter nie toe sy gevra word om die belangrike geleentheid nog mooier te maak nie, en sy verstaan dat sy ‘n poprokkie moet teken! Selfs toe sy aanbied om weer te probeer, moet sy uitvind dat ‘n ander kind die opdrag gekry het. Later moet sy uitvind wie die meisie is- gaan dit die einde van haar vriendskap met ‘n beste vriendin beteken?

Lekker ligte leesstof met net die regte tikkie spanning sodat lesers betrokke sal bly.

Vir ouer lesers:

Polleke, deur Guus Kuiker( PROTEA, 2017) R275. Afrikaans deur Martjie Bosman.

Vyf boeke in die Polleke reeks verskyn hier as een bundel, wat dit veral lekker maak vir die leser wat dadelik betower word deur die uitgesproke parmantige meisie Polleke wat self ook as verteller optree. Vir my is hierdie die beste jeugboek wat vanjaar verskyn het.

Polleke se ouers is geskei, en nou vind sy uit dat haar Meneer op haar ma verlief is. Mimoen is haar vriend en van Marokko afkomstig, sodat daar gedurigdeur ‘n botsing tussen die twee kulture plaasvind, want Mimoen wil nie meer met haar uitgaan nie omdat sy ‘n digter wil word, in sy kultuur mag dit  nie gebeur dat ‘n vrou ‘n digter is nie!

En Polleke skryf die mooiste gedigte wat telkens in die boek verskyn as sy iets baie spesiaal wil vertel. Die boek is deurtrek met Polleke se idees oor omtrent enige onderwerp denkbaar- pa’s, ‘n jonger sussie Hilletjie, geloof, oor Grietjie wat dragtig is, haar Oupa en Ouma;  haar pa Spiek vir wie sy baie lief is want hy is ook ‘n digter, oor haar beste vriendin Caro en die lawwe speletjies wat hulle speel; hoe sy van bome leer en mooi kan bid; ‘n kuier by Meneer se ma in haar beste rooi rok; oor die seun Tom op die plaas en oor haar gunsteling lekkers- drop; oor ‘n straatpartytjie en nog veel meer…

Hierdie verhaal oor ‘n Nederlandse dogter is ‘n duidelike voorbeeld daarvan dat basiese menslike behoeftes en emosies geld as ‘n universele konneksie tussen mense en lesers orals in die wêreld.

Polleke se verhouding met haar probleem-pa, die egskeiding, haar ma se nuwe verhouding, haar liefde vir Mimoen en Consuela uit Meksiko; haar verhouding met haar Oupa en Ouma, haar  liefde vir die kalfie wat nou ook Polleke heet; vind aanklank by soortgelyke situasies in elke kultuur.

Die skrywer het ‘n besondere styl wat jou raak deur juis die eenvoud en absolute eerlikheid van Polleke se taal. Sy het ‘n heerlike humorsin, en maak dikwels die snaakste en onverwagte verfrissende opmerkings.

Kuijer het verskeie toekennings vir sy Polleke-boeke ontvang, en die boeke is in Nederland verfilm.

Een van Polleke se gediggies:

“Toe ek klein was

Kon ek enigiets doen

En wat ek nie kon doen nie,

Kon ek nie

Omdat ek klein was.”        

Die elfde hoofstuk sê slegs: Ek is nou dertien.

Na haar geliefde Oupa se dood skryf sy:

“Iets is nou weg

wat ek vroeër geniet het,

iets kleins, iets sags,

‘n mooi, vrolike lied.

Daar waar dit was,

is nou ‘n kuil

en op die bodem skuil

‘n onverwagse verdriet”.

Hoogs aanbeveel virjongmense en volwassenes.   Bosman se vertaling is in die kol!

 

Lona Gericke. 

Wednesday, September 20, 2017

'n Besondere groep nuwe prenteboeke


 

Gaudesaboos, Pieter en Francis, Lorraine( PROTEA, 2017) Afrikaanse vertaling deur Rentia Bartlett-Möhl

Stel jou voor ‘n seuntjie wat altyd moeg is en oral aan die slaap raak!- Walter slaap as hy swem, teken, skoppelmaai ry, in die akwarium, in die verkeer, selfs by sy verjaarsdagpartytjie. Die raad by ‘n Koninklike Hospitaal vir Slaapsiektes faal, so ook die raad van ‘n wyse ou vrou wat in die oerwoud woon.

Almal is buite raad, totdat ‘n hond in die huis verskyn. Dis net wat Walter nodig gehad het- iemand om mee te speel.

Die illustreerder het ‘n unieke styl . Die illustrasies word digitaal gedoen, en ek stem saam met die uitgewer dat dit ‘n “nostalgiese of retro-gevoel” gee. Elke situasie is oorspronklik geteken en spreek van ‘n ryk verbeelding. Die boek is ook op dowwe papier gedruk, wat bydra tot die ongewone gevoel . Of die boek veel aftrek gaan kry onder lesers, moet ons maar sien. Defnitief is dit spesiaal maar tot ‘n uitgesoekte gehoor gerig.

Misheiker, Betty: Die dapper muis( LAPA, 2017) Illustrasies deur Chris Venter.

Die skrywer is bekend vir haar gewilde liedjies , en die uitgewer het dit goed gedink om haar op hierdie manier weereens erkenning te gee.

“Ek’s ‘n dapper muis, kyk hoe stap ek deur die huis, en daar’s niks waarvoor ek skrik nie”. As kinderbibliotekaresse het ek gereeld die liedjie in die biblioteek gesing,  dit is regtig n persoonlike gunsteling!

Hiermee saam is Chris Venter se illustrasies van die geliefde lied in die kol. Hy slaag daarin om lewe aan die teks te gee op ‘n  prettige en vrolike manier,  en ‘n muis kan eenvoudig nie ‘n meer dapper houding inslaan as juis sy illustrasie van die dapper muis nie!

Die boek het net absoluut ‘n onweerstaanbare bekoring, en spreek van ‘n fyn aanvoeling vir wat kleintjies gaan gelukkig maak. Hoogs aanbeveel.

Misheiker, Betty: Die eensame krokodil( LAPA, 2017). Illustrasies deur Johann Strauss.

Die krokodil is baie hartseer omdat hy graag maters wil hê, maar “almal sê ek vreet te graag”.

Hy “ontsnap” uit die watergat en beland nader aan ‘n moontlike prooi deur sy lyf om ‘n boomstam te rank.  Maar die tak breek, en uiteindelik beland hy terug waar hy hoort,sonder dat hy enige “vriende”gemaak het. 

Strauss se illustrasies dra ‘n sterk gevoel oor van hoe gevaarlik die krokodil regtig is , en ook hoe grillerig.  Hoewel die toeskouers heel opgewonde lyk met die krokodil se mannewales, is daar tog afsku op gesigte te bespeur as die opsigters by die dieretuin hom weer gevange neem.

Persoonlik het ek die krokodil oneindig jammer gekry! Die verhaal begin waar ‘n heerlike stuk vleis na hom gegooi word, maar in die laaste illustrasie is sy bek nog toegebind terwyl hy tranerig aan die stuk vleis vasklou. Ek huil sommer saam met hom.

Misheiker, Betty: Die Lappop( LAPA, 2017) Illustrasies deur Karen Ahlschläger.

‘n Lappop word op die ashoop weggegooi omdat sy stukkend, “gedaan”, en nie meer mooi is nie.

En wie is haar metgeselle hier?”: ‘n vrot pampoen, ‘n stukkende skoen, ‘n grammofoonplaat, ‘n kous sonder maat. ‘n lëe bottle bier, ‘n verlepte angelier, ‘n gelapte binneband, en ‘n ou koerant”.

Sy voel gou beter toe hulle haar as die ashoop-koningin kroon, en nou word sy deur haar onderdane bedien, wat haar sommer baie gelukkig maak.

Hierdie lappop het sekerlik die grootste groen oë en herinner aan die Big eyes kunstenaar , Margaret Keane , se werk. Dogtertjies sal maar moet besluit of sy hulle bekoor- dit twee illustrasies waar sy gekroon word en daarna  op haar troon sit, is besonder vrolik en feestelik. Om nie te praat van die finale knipoog omring deur ‘n vrolike hart nie!

Preller, Martie: Die Babalela-storieboek( LAPA, 2017) Illustrasies deur Andries en Erica Maritz.

Wat ‘n heuglike ervaring om al 4 Babalela-boeke hier in een storie-omnibus te vind!  Martie Preller se Babalela-stories het ek as bibliotekaresse daagliks aanvrae voor gekry, en dit was en is nog altyd een van die mees geliefde karaktertjies wat in Afrikaans kinderboeke ‘n verskyning gemaak het.

Die uitgewer meld dat meer as 85000 eksemplare van die vier titels reeds verkoop is, die verhoogstuk het landwyd getoer, en selfs ‘n Babalela-pop, T-hemde en ‘n CD het ook bygedra tot die pers figuurtjie se gewildheid.   

Hierdie omnibus behoort in elke biblioteek-en tuisversameling waar ouers en bibliotekaresse kinders lief vir stories wil maak.

Babalela is ‘n parmantige individu wat uitgelos wil word deur buitestaanders, en net tuis en gelukkig voel , “diep , diep in ‘n donker bos waar die son net soms deur die take loer…” Hoe lekker was dit nie om die kindergesiggies dop te hou as die verteller begin vertel met die hulp van hierdie pragtige teks nie! Ek is seker groot vreugde gaan hierdie omnibus aan baie kinders bring.

Schaapman, Karina:  Die Muishuis- Sam en Julia( PROTEA, 2017)Ton Bouwer het die vertrekke en situasies in die verhaal gefotografeer.

Die uitgewer vertel hoe Schaapman gedink het dat sy ‘n regte muishuis kon bou, en toe so gemaak het. Dit is begin deur lemoendose te versamel en te omskep in die vertrekke van die huis.” Vir die binneversiering is outentieke materiaal uit die jare vyfig, sestig en sewentig en allerlei soorte afvalmateriaal gebruik. “Daar is ‘n verwysing na www.themousemansion.com, sowel as die Mouse Mansion-blad op Facebook en die kanaal op YouTube. Die boek is in 2012 bekroon met ‘n Silveren Penseel en in 2015 met ‘n Gouden Boekprys.

Op die skutblaaie kan gesien word hoeveel detail daar in elke vertrek van die Muishuis gebruik is met o.a. meubels, boeke, plante,en materiaal.

En as die Muishuis self nie jong lesers se verbeelding reeds gaan aangryp nie, is daar as bonus die twee dierbare muiskinders, Sam en Julia wat in die Muishuis woon. Die twee het hul eie geheime hut gebou, en verder doen hulle al die gebruiklike dinge soos pannekoek bak, musiek maak, nuwe babas help versorg, verjaarsdag partytjie hou, met die wasgoed help , waterpokkies kry en by ‘n bakkery besoek aflê.Hulle besoek ook Meneer Sinkel se winkel vir seep, en geniet die Sjabbat saam met die ander muise, skrik vir Julia se skaduwee, en gaan dan slaap na ‘n uiters opwindende dag.   

Die Muishuis behoort baie jong lesertjies te fassineer.     

 

Tuesday, September 19, 2017

Van n sirkus tot spoke en kupido


Scheeres, Solet en Van Heerden, Die leeutemmer se assistant(LAPA, 2017)

Min het Martjie geweet toe Bertus haar uitdaag om op die trein te klim en tot bo-op die leeu se krat te gaan staan, dat sy langs die leeu sou beland en met die trein op reis na ‘n vreemde bestemming sou gaan. Want toe die trein begin ry, kon sy nie betyds afklim nie.

So begin Martjie se avontuur saam met die Pagel sirkus. Baloi die leeu-oppasser laat haar toe om te help met die olifante, al die ander lede is gaaf en laat haar tuis voel, behalwe Sergei wat hom verbeel hy is nog in Rusland. Gou kom sy ook agter dat Sergei by ‘n smokkelary betrokke is. Wally is die nukkerige olifant wat later deur die polisie doodgeskiet word.

Die skrywer gee op bladsy 144 inligting oor die Pagel sirkus, gevolg deur ‘n sirkus-woordeboek, ‘n lys van woorde uit die 1930’s en ‘n bibliografie van geraadpleegde bronne.

Kinders wat bekoor word deur die sirkuslewe sal sekerlik die boek geniet. Scheeres skryf oortuigend, en die spanningslyn word goed gehandhaaf.   

Kaiblinger, Sonja: Harry Griesel –die spookmeesters( H&R, 2017)

Hierdie is die derde titel in die reeks. Otto en sy huisspoke Sir Tony, Bert enMolly en sy troeteldier vlermuis Otto bly in Radysstraat nommer agt. Tannie Sharon is die eienaar van die huis en versamel horlosies. ‘n Nuwe buurvrou trek in in meneer Olsen se huis,  Madame Olga, en tannie Sharon is dadelik beïndruk met die gawe vrou. Fernando is die Spaanse spook wat in die huis bly en hy pleit by Otto om van die verskriklike vroumens ontslae te raak.

Hulle dink dat sy spoke kan sien, veral as haar ligbruin oë  gloei. Mettertyd sal hulle uitvind dat ‘n werklike spookmeester deur haar werk. Dit is ‘n baie gevaarlike spook. Madame Olga waarsku die jongmense dat oom Archibald ‘n baie spesiale pers steen in hul tuin begrawe het,en die juweel lok die spookmeesters nader.  Drakemor die Verskriklike is die spook wat die steen wil bekom sodat hy die Grieselgrypers kan ontduik.    

Gaan Otto en sy helpers Drakemor op sy plek sit?

Lekker opwinding vir lesers van die Harry Griesel reeks , en sommer alle kinders wat van grillerige grieselrige stories hou!

Allers, Annabel: Kupido.com( LAPA, 2017)

‘n Debuutroman wat ideale leesstof  sal wees vir tieners wat ‘n romantiese storie geniet. Ons heldin is Léa, ‘n doodgewone meisie wat smoorverlief is op die hoofseun, Philip Cronjé- ‘n aantreklike donkerkop , slim ook, maar ongelukkig het hy reeds ‘n meisie. Léa se vriendinne is bekommerd oor haar vaal liefdeslewe, en Kaylie skep ‘n vals profiel vir haar op Kupido.com:

I’m a SingleLady wat baie sportief is, ‘n bikinimodel in haar vrye tyd . Sy hou van bloedrooi lipstiffie en haar ideale man is avontuurlustig en sportief en neem die leiding en moet haar kan beskerm. Toe Philip Stud-007  van haar profile hou en wil kennis maak, begin die uitdaging vir haar vriendinne om haar voorkoms meer opwindend te maak sodat sy Philip kan ontmoet- ‘n rooi pruik sal haar vaal haartjies wegsteek.

Die eerste ontmoeting is toe ook baie suksesvol, maar sal hulle dit kan volhou om Philip te mislei? En wat van Werner die ou wat haar detensie laat kry en gedurigdeur haar aandag probeer kry?

‘n Ligte verhaal wat moeiloos lees en veral meisies gaan bekoor.    

Smit, Louise : Haas Das se nuuskas-episode 4( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Klein Boeboe Bobbejaan raak weg. Die diere dink Hoohoeff Hiëna het hom gevang. Haas Das moet dus ‘n dringende uitsending aan die diere doen waar Koning Leeu direk met die diere gaan praat om te help met die soektog na die verlore klein bobbejaantjie.

Kleinstinkie Muishond is een van sy beste maatjies, en toe baasspeurder Tienie Ratel besluit dit is tydmors om verder na die kind te soek, besluit Kleinstinkie hy gaan hom probeer vind. Hy vertel hoe hy net toe Hoohoeff Boeboe wou vang sy stert gelig het en hom Kolskoot in sy bakkies stink gespuit het.

So word ‘n hartseertyd omskep in ‘n Feesdag in Diereland!

Vian Oelofsen se illustrasies verhef ‘n doodgewone kinderstorie  tot ongekende hoogtes met sy uitbeelding van die verskillende diere en hul omgewing – hy het ‘n besondere aanvoeling van prente wat die teks sal aanvul en die verhaal nog meer kleurvol en vermaaklik sal maak.  ‘n Pragtige boek wat op elkeboekrak tuishoort.

Viljoen, Fanie: Krappie en die kroon( H&R, 2017) Illustrasies deur Alistair Ackermann

Krappie hou van avontuur.  Sy sussie probeer hom nog waarsku om nie rond te loop nie, maar Krappie wil sy omgewing verken.Hy gewaar ‘n groot blink ding tussen die rotse- dit is ‘n glasbottel waarin ‘n seeslak vasgevang is. Toe hy sy knyper insteek om die sappige happie beet te kry,sit dit vas. Die  krewe is woedend, want Krappie het hul koning se kroon van die rotse afgestamp, en nou moet hy dit terugkry. Hy belowe om die kroon te gaan soek.

Die vasgekeerde seeslak kom tot sy redding  met goeie raad, en as die bottel breek tussen die rotse, oortuig hy die koning dat die gebreekte bottel se nek  soos ‘n kroon lyk, en die verlore kroon kan vervang.

So eindig sy avontuur wat amper sy lewe gekos het, op ‘n positiewe noot. En as sy ma tuiskom , verseker hy haar dat hulle sommer baie soet was!

‘n Groot formaat prenteboek met ongewone illustrasies deur Alistair Ackermann van reuse krewe en ‘n krappie wat rondswem met sy knyper wat in die bottel vassit. Die onderwater tonele gee werklik ‘n gevoel van die see , en die krappie en krewe het sowaar gesigsuitdrukkings wat wissel van vrees, woede en uiteindelik vreugde.

‘n Goeie lewensles word vertel- hulp kom soms vanuit ‘n onverwagte oord; dit help om vriende te maak en ‘n ander te vertrou, selfs as dit amper onmoontlik lyk onder die omstandighede.  

Jacobs, Jaco en Viljoen, Fanie: Die wonderwêreld van seelewe( LAPA, 2017)

Hierdie is die 13 de titel in die Hoezit! –reeks. Alle aspekte van oseane en die visse , seesoogdiere, jellievisse, krappe en krewe, voëls, seeskilpaaie, pikkewyne word in ‘n kleurvolle kinder-vriendelike publikasie uiteen gesit.

Vreemde feite oor bv. ‘n haai word gegee, dat ‘n Blouwalvisse tong omtrent soveel wweeg soos ‘n olifant; end at ‘n deel van ‘n seekat se brein in sy arms sit.

‘n Letterblok versteek seediere wat kinders kan soek, 5 mites uit die see word vertel, en daar is selfs ‘n tangram wat kinders kan gebruikom dierevorms te maak. Rekords uit die see, asook ‘n paar van die see se gevaarlikste bewoners soos die Leeuvis, die Blouringseekat en die Boksjellievis wat uiters giftig is. Daar is finaal ook ‘n versoek omons oseane te red,, en drie bladsye van vrae om kinders se kennis te toets volg.

Werklik ‘n nuttige publikasie wat teen R80 maklik bekombaar is, ook vir tuis versamelings.

 

  

 

 

Monday, September 11, 2017

'n Versteekte krokodil en boosaardige broers..


Jacobs, Jaco:  Daar’s nie ‘n krokodil in hierdie boek nie( LAPA, 2017) Illustrasies deur Chris Venter

Kombineer Jaco se storie-vernuf met Chris Venter se verfrissende humoristiese oog, en die boek kan nie anders as om te slaag nie!

Lesers word sommer met die intrapslag verseker dat hoe hard hulle nou ookal mag soek, daar is nie ‘n krokodil in die boek nie. Natuurlik net die regte aansporing vir nuuskierige kleintjies om te begin soek na daardie verskuilde groen monster! Karakters uit geliefde feëverhale is die krokodil in vermomming: Cinderella se groen stert is goed weggesteek; maar as sy uit die paleis hardloop is die gesig heel duidelik die van die krokodil.

Die reus in Jan en die boontjierank hardloop verskrik weg as hy Jan as die krokodil ervaar; die prinsessie wat die padda wil soen om haar goue bal terug te kry, soen die aanloklike rooi mond van die krokodil. Gouelokkies is nie heeltemaal so onskuldig as sy deur die bere gewaar word nie, en Rooikappie se ouma as die wreedaardige krokodil leer die wolf behoorlik ‘n les!

Chris Venter kleur die bladsye in met vriendelike muise, ‘n fee, die groenste kronkelende boontjierank, geel pampoene, ‘n verskrikte reus, die allerfraaiste aandtoneel waar die prinses langs die waterpoel sit omring deur ‘n skitterende feestelike omgewing waar wit blommetjies in die naglig skitter; ‘n goue krulledos vir Goue Lokkies wat krul en krul; en drie stywe beere wat amper opgestop lyk; en ‘n regtig grillerige gesiggie van die krokodil omraam deur goue krulle in die bed.

 Rooikappie se woud bestaan uit ‘n verskeidenheid van regop boompies wat langs die pad staan. En in amper elke illustrasie is daar die muis-karaktertjies wat toekyk. Sy illustrasies is heerlik kleurvol, vol humor en beweging en baie oorspronklik.

Die boek behoort baie lesertjies ure van genot te verskaf. 

Radloff, Adeline: Die boosaardige broers Botha( Tafelberg, 2017) Illustrasies deur Alex van Houwelingen.

“Die broers Botha woon in die Bosveld, ver van die groot stad af, waar dinge nog rof gaan…”

Barend is die oudste en ‘n rofstoeier van beroep. Ben is die tweede oudste en altyd knorrig , daarom is sy bynaam Brom. Bernard is die derde broer  met die bynaam Buskruit-hy hou van skiet en jag.

Bulelani Botha is die jongste en is heeltemaal verskillend van die ander drie. Hy hou van gesonde kos, lees en is vreedsaam , is lief vir diere en hou nie van jag nie.  Die ma Bettie is oorlede, en gevolglik moet die ouer broers na Bulelani omsien. Maar hulle slaag netnie daarin om hom te verander nie! Hy besluit dus om elkeen van sy broers ‘n les te leer deur elkeen ‘n lelike streep te trek.

Die broers verander so in meer voorbeeldige  karakters, en hulle besluit selfs om die kinders reg te sien by die skool wat Bulelani so boelie. Hoe hy hulle regsien en wat met die kinders by die skool gebeur, moet die lesertjie maar self uitvind met die lees van die boek! 

Die skrywer vermaak die leser met die broers en hul eienaardighede; en baie duidelik is die lewensles dat mense kan verander, dit mag dalk net aanpassing verg en die begeerte om die wêreld ‘n beter plek vir almal te maak.”Mense soos Breker, Brom, Buskruit en Bulelani, die boosaardige broers Botha!”

Baie geskik vir beginner lesers en almal met ‘n sin vir humor.

Wednesday, August 2, 2017

Kewer-koningin wil koning kraai!


Leonard, M.G.: Kewer-koningin(PROTEA, 2017) R195  Afrikaanse vertaling Kobus Geldenhuys

Lucretia Cutter het nou daarin geslaag om haarself te metamorfoseer na ‘n kewer, en vir haar is die tyd nou ryp om die wêreld oor te neem met haar mag van transgenetiese kewers. Sy beplan om met die Filmtoekennings in California voor die skare haar magsoorwinning bekend te maak. Hoewel sy ook daarin slaag om die meeste van die Emporium kewers te laat verbrand, is daar nog steeds die drie jongmense- Bertolt, Virginia en Darkus, Bartholomew Cuttle se seun , wat haar planne omver wil werp en met die oorblywende kewers mobiliseer teen haar vernietigende magte. Die klimaks tot die verhaal is dan die geveg in die teater waar sy wel slaag om te ontsnap.

Hierdie hooftema word deurvleg met verskeie karakters se optrede  soos haar dogter Novak wat Darkus hulle probeer help; Darius se pa wat hom weer aansluit by Lucretia om haar te probeer beïnvloed; oom Max Bartholomew se broer wat ook die jongmense help; die twee dom broers Pickering en Humphrey wat hul geld van Lucretia wil eis; Calista Bloom Bertolt se verspotte ma, en Ling Ling Lucretia se gevaarlike vegter. Dokter Yuki Ishikawa word ook betrek by ‘n reddingsending na die Amasone om o.a.Barty en Novak uit Lucretia se kloue te red.  

Die kewers speel deurgaans ‘n belangrike rol: die drie jongmense het elk hul eie persoonlike kewer soos Darkus se geliefde Baxter  en selfs Novak versteek haar Hepburn van vyandige kewers.

Hierdie is die tweede boek na Kewerknaap in die trilogie waar Kewerwraak nog moet verskyn.  

Opwindende interessante leesstof propvol inhoud en inligting oor kewers- daar is selfs ‘n entomologiese woordelys ingesluit. Interessante karakterisering en genoeg grillerige goggas en kewers om die leser betrokke te hou by ‘n “anderse” verbeeldingryke  avontuur. Hoogs aanbeveel.

Tuesday, August 1, 2017

'n Mengelmoes van kinder-en jeugboeke


‘n Potpourrie van Afrikaanse kinder-en jeugboeke:

Krahtz, Karin: Elton die verskriklike April verloor dit!( Tafelberg, 2017)

Elton amper famous April en juffrou Brom (2015) was ‘n heerlike reguit op die man af verhaal wat beïndruk het met ‘n geloofbare karakter sonder pretensies wat so dadelik in jou hart gekruip het. Verblydend is die verskyning van ‘n tweede April storie, en weereens is die verhaal net so ‘n lekkerte om te lees!

Hy en sy ma bly nou in ‘n ouetehuis Groendakkies,  waar sy verpleegster is, en Elton is maar te bly om ‘n dak oor sy kop te hê, ‘n vol maag en nogal ‘n paar vriendelike tannies wat lekker port kan drink. Skool is ‘n uitdaging, want as ‘n groentjie word hy misbruik deur twee boelies, beland eers in die verkeerde klas- Mechanics – terwyl hy eintlik hoort by kunsklasse en sy musiektalent moet kan uitleef. Gelukkig is daar die noodhulp kursus saam met die pragtige Roxy in die biblioteek-‘n veilige plek om vir Popeye weg te kruip- “want die word bibbeljoeteek is beslis nie in sy woordeskat nie”.

Elton bly kwaad, en word gestuur na die sielkundige tannie Kameel wat hom aanmoedig om sy gevoelens uit hom te teken… maar help dit regtig? Want hy moet alweer “cover” vir sy ma wat laat huistoe kom, en Elton is oortuig die Samajoor in die tehuis is sy ma se nuwe kêrel.  Maar niks erger kan wees as die nuus dat sy ma weer ‘n baba verwag nie! Sê Elton: “ Die lewe skuiyt op my soos ‘n onmanierlike duif”.

“Ek is  ver verby gatvol.En nou weet ek gatvol is baie gevaarliker as woede, want as jy woedend is, gee jy nog om”.

Hierdie joernaal met Elton aan die woord loop oor van treffende opmerkings wat aan Elton  se gevoelens gestalte gee. ‘n Verhaal wat jou bybly, wat weer gelees wil wees, en ‘n plek verdien in biblioteek, skool en tuisversamelings.

Engelbrecht, Nelia: Die Poort-krygers( Tafelberg, 2017)

Hierdie is die vierde en finale titel in die POORT-reeks- bewakers, reisigers en helers, en nou krygers. Kali van Gala en die ander nuweling-bewakers van Bospoort  het die geleentheid om hul Kragte en Magte te oefen, maar swak beheer hiervan laat hulle beland in Ierland in ‘n kasteel wat dien as ‘n beheersentrum wat al die Poorte op aarde monitor.

 

Die stryd duur voort tussen die bewaarders en die Ander: Chanda –Mundia en sy volgelinge wat hul gedurig opponeer. Dan is daar ook die interessante verhouding tussen die drie- Kali , Zak en Leonardo- watter jongman gaan uiteindelik haar hart volkome verower, of is dit nie moontlik nie?

‘n Aksie-belaaide verhaal waar die bewakers uiteindelik tog die mense van Bospoort moet verdedig teen die Ander wat in beheer van die Poort wil wees.

Lesers wat die vorige drie boeke gelees het sal hierdie finale hoofstuk in die saga baie geniet.  Pragtige treffende omslae.     

Webb, Holly: Lana en Rakker-vakansie by die see( LAPA, 2017)

Die 5de titel in ‘n prettige reeks met Lana en haar onnutsige hondjie Rakker as die hoofkarakters. ‘n Vakansie by haar Oupa en Ouma by die see is dit die geleentheid vir Rakker om met seewater kennis te maak, en Lana se ouma te irriteer met sy stoutighede. Maar toe hy wegloop en hulle hom moet soek, vermurwe selfs Ouma se hart.

Onskuldige ligte leesstof vir kinders wat al ‘n eenvoudige teks kan bemeester, en hou van ‘n storie met ‘n gewone gesin wat vakansie hou by die see.

Webb, Holly: Lana en Rakker –Rakker se prettige Kersfees( LAPA, 2017)

In die sesde boek in die reeks kry die twee die geleentheid om te help met die diereskuiling Vierpotige Vriende se Kersfeesfunksie in Julie om fondse in te samel.

Lana is dadelik baie entoesiasties en betrek ook ander maats by ‘n vertoning van kersliedere. Sy oortuig selfs haar ouers om vir hul huis ‘n reuse kersfeesboom te koop. Rakker besef hy sal nie sy been teen hierdie boom kan lig nie! Elkeen van die kinders trek vir hulle honde oulike kersfees-uitrustings aan- Rakker is tog te oulik met sy hoed, maar ‘n bietjie van ‘n verleentheid toe hy saam met die koor begin “sing”.

Ligte leesstof met ‘n rakker van ‘n hondjie wat gedurig nuwe stoutighede aanvang.

Smit, Louise: Haasdas se nuuskas-episode 3( H&R, 2017) Illustrasies deur Vian Oelofsen.

Die dag vir die sportbyeenkoms breek aan . Groot opgewondenheid heers in Diereland om die wedloop tussen Hasie Kwassie en Skillie Skilpad te sien.

Hasie is vol selfvertroue dat hy gaan wen:”Met my Spoetnieke( sy wegholskoene) hol ek sonder brieke”. Hy neem net deel om vir eens en altyd die storie dat skilpad haas gewen het, stop te sit. Sal hy dit regkry? Of is daar diere wat ‘n stokkie voor sy grootmond uitsprake gaan steek?

Vian Oelofsen se illustrasies lewer ‘ngroot bydrae tot die aantreklikheid van die boek: Piet Muis met sy groen strikdas en geel broekie, die twee skilpaaie met die rooi pette; die maer hasie met sy ontwerperskoene; die wildebees en oupa Dassie  elk met ‘n Veldnuus koerant; en daardie bloedrooi tv waarna die diertjies met soveel konsentrasie kyk om uit te vind wie nou regtig die wedstryd gewen het! Om nie te praat van die imposante koning Leeu en die pikswartmoeder Raaf se gesprek om ‘n oplossing te vind vir die kleintjies wat blootgestel word aan die ou afgetrede diere se stories sodat daar geen stilte meer is nie.

Baie vermaaklik en ironies.

Bertish, Greg: The little optimist( The little optimist trust) 2017 Illustrations by Chip Snaddon. An Afrikaans edition will come.

The author is a South African champion lifesaver achieved as a multiplecardiac surgery survivor, and ambassador for the Children’s Hospital Trust.  In 22016 he sailed a children’s optimist dinghy around the Cape of Storms. The beautiful Langebaan lagoon was the final destination, and the setting for his story about the little yacht – an Optimist –the smallest of all yachts. But this yacht compensated for his size by having the biggest heart you can imagine. He would say to himself:” I may be slow and I may be small. Mysail is square and I’m not tall. But I am special and I have a heart.My dreams are big and this is just the start”.

In a brave rescue attempt he safes an old Houseboat which was in trouble far out in the dangerous waters, something none of the other bigger boats would attempt.

A charming story with tremendous appeal in its sincerity , a lesson in courage and  to trust one’s own abilities.  www.thelittleoptimist.org.

Davies, Benji: Oupa se eiland( PROTEA, 2017) Vertaler: Carmen Hansen-Kruger. R150

Simon se Oupa woon aan die onderpunt van hulle tuin in ‘n huis. Hy besoek sy Oupa gereeld. Op ‘n dag kry hy sy Oupa op ‘n ongewone plek- op die solder waar hy agter ‘n laken’n groot metaaldeur laat verskyn en Simon nooi om saam met hom op ‘n bootreis te vaar na ‘n pragtige tropiese eiland . Hulleherstel’n vervalle huisie op die eiland, en Simon dink dit is die beste plek ooit. Hy weet egter dat hulle sal moet truggaan, maarsy Oupa vertel hom dat hy daar gaan agterbly. Toe hy na sy tuiskoms weer ‘n draai by oupa se huis gaan maak is Oupa nie meer daar nie. ‘n Voël bring aanhom’n koevert met ‘n foto van glimlaggende Oupa op die eiland omring deur tropiese voëls en diere.

Keurig versorg soos kenmerkend van PROTEA se kinderboeke -die tropiese eiland is aanloklik met die welige plantegroei en  diere.

Die boek word bemark as ‘n verhaal wat “‘n mooi maar hartseer storie op ‘n avontuurlustige manier vertel hoe kinders’n geliefde grootouer groet, hetsy dit vir altyd of tydelik is”. Ek dink nie hierdie voorstelling van die dood en afskeid gaan in alle ouers  se smaak val nie; dink na oor hoe dit met kinders gebruik gaan word.

Punt-Fouché, Louisa: Skaarser-as-skaarste Oewerkonyn van die Karoo( Christel Foord, 2017).

‘n Sterk poëtiese ontroerende teks stel die leser bekend aandie Oewerkonyn, ‘n bedreigde soogdier waarvan daar vandag na beraming net 250 pare oor is volgens die skrywer.  Feite oor die dier se eetgewoontes en bedreigde habitat word verweef in ‘n teks wat sing en dans:”Die bossies wat ons eet, rivierdraaibos, gannabos, bierbos, inkbos en skaapbos, word daarom al hoe skaarser”.

‘n Pragtige gedig word aan die Oewerkonyn opgedra, hiervan ‘n uitreksel:

“jou ore so lank jou voete so sag

Jy verstaan die fluisteringe van die donkerste nag”…..  ‘n Ongewone boek deur ‘n kunstenaar se hand –‘n mengelmoes van kleure, letters en sterk gevoel.

Rousseau, Leon:  Ek leer van kleure; Ek leer die ABC; Ek leer tel( H&R, 2017) Illustrasies deur Karen Ahlschläger en Johann Strauss.

Drie individuele boeke in sagteband wat voorskoolse kinders help met getalle, om letters te kan identifiseer, en kleure waar te neem.

In Ek leer van kleure is dit gewoonlik oulike muise wat elke individuele kleur voorstel en dienaam van die kleur telkens herhaal. Dan word die rëenboog se kleure aangedui, en op die finale twee bladsye is daar ‘n dorpstoneel kompleet met ‘n treintjie wat kinders uitnooi om te noem watter kleure hulle hier raaksien.

In Ek leer die ABC kan kinders deur herhaling ook die letters van die ABC leer identifiseer met klanke daarby om te help met die uitspraak. ‘n Prettige Appeltert-alfabet word gebruikas objek om die kind tot by die letter z te neem. Heel oorspronklik!

In Ek leer tel is die muiskaraktertjies weer hard aan die werk om kinders se tellery verleidelik mooi te illustreer.

Hierdie is baie aantreklike boeke en behoort goed ontvang te word deur volgelinge van die Storiemuis-reeks.                                      

 

 

 

Friday, July 28, 2017

Lekker boeke vir 9jariges plus!


 

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die super stinkbom( LAPA, 2017) R85

Die 13de titel in hierdie gewilde reeks stel weereens nie teleur nie! Zackie en Vincent sluit by die skoolkoor aan omdat hulle op die lekker koorkamp wil gaan, net om te hoor dat die rugbykamp dieselfde tyd plaasvind. Anton die skoolboelie begin sommer dadelik spot met Zackie Mozart, maar sy nuwe koormaats besluit ‘n stinkbom is net die regte ding om Anton stil te kry. Maar dit is juis Anton se sangstem wat hom self in die koor laat beland- die grootste straf ooit! Vir hierdie boelie.

Jacobs, Jaco: Zackie Mostert en die slim speurder( LAPA, 2017) R85

Zackie word verkies tot kaptein van die krieketspan, wat Anton dadelik laat besluit hy moet wraak neem . Toe Jenny Jay by die skool optree, verdwyn haar kosbare halssnoer, en Anton probeer Vincent van die diefstal beskuldig. Maar Zackie hou sy lyf speurder, en die verlore halssnoer word op ‘n spesiale plekkie opgespoor.

Ligte leesstof vir Zackie se aanhangers met net die regte balans van humor en ‘n onderhoudende storielyn.

Roux, Lize: Stalmaats 19- Pretrit( LAPA, 2017) R100

Anri en haar twee vriendinne is opgewonde oor die skoolvakansie wanneer hulle rylesse en ‘n Paaseier-soektog vir die kinders van die Peace Shelter gaan reel. Nadine, haar beste vriendin van die vorige ryskool kom kuier, maar dit is baie duidelik dat sy gladnie by die lesse betrokke wil raak nie. Anri kan dit nie verstaannie, totdat Nadine haar die rede hiervoor vertel. Dalk word dit nog ‘n heerlike pretrit!

Roux, Lize: Stalmaats 20-Perdediewe( LAPA, 2017) R100

Anri en haar gesin gaan vir die langnaweek Kaap toe waar haar broer aan die fietsryproewe gaan deelneem. Sy weet Jacques mis sy perd Thunder baie waar sy en haar vulletjie Storm ook in die Kaap is sodat Storm geopereer kan word vir sy knieë. Hulle nooi Jacques saam sodat hy sy perd kan opsoek. ‘n Perde diefstal vind plaas, en die jongmense probeer die skuldiges vastrek.

‘n Opwindende  storie met onverwagse wendings. Die Stalmaats aanhangers sal lekker kan lees.

Jacobs, Jaco: SKWIEK( LAPA, 2017) R100.

Nathan hou nie van Dinsdae nie . Maar vreemde dinge kan op ‘n Dinsdag gebeur- soos ‘n boks wat vir hom afgelwer word met ‘n hamster as geskenk. Charlie sy vriend kom kuier, en hy word deur die hamster gehipnotiseer. So leer Nathan dat die hamster net kaaskrulle eet, terwyl Charlie niks onthou van die situasie nie. Nathan het nou hope pret met die hamster wat sy sussie en ander kinders hipnotiseer. Toe belangrike inligting van sy ma se rekenaar verdwyn, vind hy uit waarom SKWIEK daar is, en nog ‘n groter verassing oor sy ma se werklike beroep. Die skurk Basil Beyers wil die wêreld oorneem met sy uitvindsel. Gaan hy daarin slaag? , of sal hy op sy plek gesit word…

‘n Heel oorspronklike tema met hope aksie en verassings om jong lesers te vermaak. 

Steyn, Sanri: Die vampiere van Vlermuishoogte( LAPA, 2017) R100. Illustrasies deur Johann Strauss.

Hierdie is die sewende titel in ‘n gewilde reeks met Sanri Steyn as hoofkarakter.. Sy wil ‘n wêreldberoemde joernalis word, en het haar eie koerant , die Raaiselfontein Gazette begin.  

Sal die koms van Markus se neef en sy ouers en hul nuwe tuiste die indrukwekkende klipkasteel  op Vlermuishoogte weer sorg vir ‘n goeie storie? ‘n Besoek aan die kasteel maak dit duidelik dat sy ouers vampiere is, en wat dan van Danté wat die ewebeeld van Markus is? Is Markus nie dalk ook ‘n vampier nie?

‘n Heerlike grillerige storie wat versterk word deur Johann Strauss se verbeeldingryke illustrasies.