Tuesday, December 6, 2016

Grom lekker saam!


Jacobs, Jaco en Lilje, Karen: Grom!(LAPA, 2016) 

Emma word wakker en sy voel brommerig en grommerig. En kort voor lank verander sy regtig in ‘n luiperd. Die hele gesin is buite raad met haar. Maar Dian het ‘n plan-hy verander in ‘n apie wat die luiperd se stert trek. Hy lyk so snaaks vir die luiperd dat sy nie haar lag kan hou nie. En sy word weer die vriendelike dogtertjie tot almal se verligting. Hoewel die twee kinders skelm vir mekaar knipoog- dalk is hulle nognie klaar met kattekwaad en aapstreke nie!

Enige kind kan vereenselwig met haar gemoedstoestand hierdie oggend- dikwels nie lus om op te staan nie, nie vir eet en ook nie vir speel nie.

Die sagte waterverf illustrasies plaas die gesin teen ‘n neutrale rustige agtergrond wat net versteur word deur die brullende tier en later die verspotte apie. Die karakters se oë spreek boekdele – verbasing, skrik en dan samehorigheid as ‘n gesin. Baie oulike verhaal wat vertel hoe ‘n kind in die oggend aweregs wakker kan word.

Jacobs, Jaco: Moenie hierdie boek eet nie! ‘n rympie vir elke dag van die jaar( LAPA, 2016)Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Jacobs is al bekend vir sy rympieboeke vir kleintjies. In hardeband verskyn hierdie prag uitgawe – 312 bladsye met rympies vir elke maand van die jaar. In Januarie rym hy oor nuwejaarsvoornemens, die eerste skooldag en selfs Gorgonzola:”Dit ruik erger as erg, dit ruik vrotter as vrot, dit ruik byna soos iets wat woon in ‘n grot”…Februarie bring ‘n rympie oor ‘n spook in die skool se toilet; Maart vertel van as die maan ‘n pizza was  en teen Desember vertel hy dat sy pa rowwer is as jou pa:” My pa springtou met ‘n ratelslang, My pa kan ‘n leeu met sy kaal hande vang….hy is bang vir net mooi niks..behalwe my ma”!

McDonald se illustrasies is modern, verbeeldingryk, vol humor en maak ‘n groot bydrae tot die algehele gevoel van ‘n puik produksie. Haaar werk kan vergelyk met van die beste internasionale bundels wat ek al beoordeel het.

Maartens, Wendy: Towertapyt- 32 stories van rondom die wêreld( LAPA, 2016) Illustrasies deur Johann Strauss.

In Afrikaans het ons reeds ‘n paar versamelings van stories wat hul merk gemaak het en deel geword het van menige gesinne en biblioteke se voorraad.

Op glanspapier en met heerlike groot druk en vergesel van ‘n volblad illustrasie by elke verhaaltjie, is hierdie boek ‘n vreugde om te hanteer en te lees.

Uit Afrika is daar 6 stories wat Soedan, Egipte, Algerië, Benin , Ethiopië en Suid Afrika verteenwoordig- lg. Waarom Dassie nie ‘n stert het nie. Die Amerikas kry drie verhale, Britse Eilande twee, Europa 12, die Midde-Ooste een, Asië 6 en Australië en Oseanië twee.’n Bronnelys word op bladsy 160 gegee.

Die ideale boek vir voorlees en saamlees- niks kom by die bekoring wat sulke vertellings inhou nie.

Johann Strauss se bydrae as illustreerder is ongelooflik. Sy illustrasies vir die Professor Fungus-reeks en die Sanri Steyn-reeks is welbekend. Hier het hy sy verbeelding vrye teuels gegee en elke illustrasie kan die leser weer en weer geniet. Uitstaande werk.

Lona Gericke November 2016.

Ink


Mennen, Ingrid: Ink( Tafelberg, 2016) Illustrasies deur Irene Berg

“Letters maak woorde   Een vir een kry alles naam…”

In Tinka se gesin is daar pa, ma, Slip , Rosie en Jas. En die pragtigste swart kat wat orals teenwoordig is.

Sy neem die jong leser en volwassenes op haar verkenningstog van woorde – woorde wat stories maak , en veral wanneer jy jou eie boek maak – is dit vir altyd jou maat wat die lekkerste stories kan vertel!

Sy vra haar ma om haar buitelyne op koerantpapier af te trek. Toe teken sy die dogtertjie Ink binne die buitelyne. Die papierpop knip sy later uit en maak ‘n boekie daarvan.

Jong lesers kan saam met Tinka deel in ‘n leeservaring wat sy self geskep het.

Irene Berg was ook die illustreerder vir Ben en die walvisse wat die MER prys en die Alba Bouwer prys gewen het. Hier gebruik sy baie donker kleure- swart en bruin , roesbruin vir die buitelyne van Ink. Tinka woon in ‘n landelike omgewing in ‘n hegte gesinsverband.Baie oorspronklik in die uitbeelding van letters wat deur die lug beweeg om in ‘n boek saamgevat te word. Die swart kat is ‘n gunsteling teenwoordigheid en Tinka se voorkoms is heel ongewoon en innemend met haar groot ronde bril, vlegsels en klein pruil mondjie.    

‘n Keurig versorgde boek wat tot lesers wat iets “anders” soek sal spreek.