Monday, August 29, 2016

Lekker lentetyd boeke!


Lentetyd boeke!

Vir die kleintjies:

Eerste stories reeks: Jan en die boontjierank; Rooikappie; Aspoestertjie; Die Oerwoudboek(H&R, 2016)

Kleurvolle kartonboeke elk met ‘n ander kleur kolletjies rugkant ; stewig en klintjies kan na hartelus trek , stoot en skuif om die leeservaring nog lekkerder te maak. Klein Mowgli kruip weg agter kleurvolle blomme; lê in sy hangmat en word beskerm deur sy vriende.

Jan klim teen die boontjierank uit en met ‘n stootbeweging sien die leser die reus. Met ‘n skuifbeweging verander Rooikappie se ouma in die aaklige wolf, enAspoestertjie verander in n asemrowende prinses!

Die reeks is defnitief vir 0-6jariges; die sprokie is baie vereenvoudig, maar dit is ‘n gawe geleentheid om lief vir boeke te word.

Butterfield, Moira en Sterling, Holly: Almal voel…kwaad; Almal voel…hartseer; Almalvoel gelukkig en Almal voel bang ( H&R, 2016)

‘n Sagteband reeks van vier titels wat baie nuttig deur onderwysers en ouers gebruik kan word om kinders meer te leer oor die verskillende emosies wat hulle ervaar, afhangende van die spesifieke situasie waarin hulle hul bevind.

Zinzi is hartseer omdat sy haar gunsteling speelding verloor het. Omar se kat Sokkies is dood en hy is baie hartseer.   Elke kind kry die geleentheid om hul emosies met maatjies te deel. Lesers kkry wenke oor hoe om die emosies te verwerk. Op bladsye 20-21 is die stories in 4 opeenvolgende stappe verdeel as hulpmiddel, en woorde in die storie word ook verduidelik , bv. Snoesig: sag en lekker om aan te vat.Omar se kat was baie snoesig.

Die boeke is aantreklik geillustreer met ‘n vrolike positiewe gevoel sodat die kind na die prente kan kyk terwyl emosies verduidelik word. Hierdie reeks sal tuis en in biblioteke /skole gebruik kan word.

Pinguilly, Yves: Die groot blom( Tafelberg, 2016) Illustrasies deur Maja Sereda. Ook in Engels beskikbaar as The big flower. Afrikaanse vertaling deur Martine Steyn.

‘n Eerste skooldag word vir Palesa en haar maatjie Dylan word ‘n wonderlike avontuur wat begin met die twee wat skooltoe stap. Palesa se papa hou elke kind aan ‘n hand vas. Wanneer hulle by ‘n piepklein huisie verby loop word hulle gegroet deur ‘n reuse geel sonneblom. Wanneer hulle weer huistoe gaan is die blom ook besig om totsiens aan die dag te sê.

Hierdie is die mooiste boek! Sereda se illustrasies is werklik iets besonders- die hele atmosfeer wat sy so skep is vrolik en maak ‘n mens se ervaring prentjie-mooi! Een van die treffendste boeke wat ek vanjaar tëegekom het. ‘n Stapervaring so eenvoudig maar tog so lekker. Hoogs aanbeveel.

McIntyre, Sarah: Daar’s ‘n haai in die bad( LAPA, 2016)Afrikaans deur Jaco Jacobs.

‘n Lawwe vrolike fantasie met Nika wat ‘n hele haaifamilie in die badwater ontdek, en hulle besig hou met tandeborsel en lekkerruik speletjies sodat hulle haar nie opvreet nie. Toiletpapier word gebruik vir die fraai toegedraaide speletjie, en voor haar pa die gemors kan aanskou moet hulle help met die skoongeskrop-speletjie. Pappa Haai besluit nou hulle sal beter vaar om terug te gaan see toe. En Nika: kyk net wat ontdek sy in haar papbak met ontbyt! Lekker laf en vrolik; groot pret.

 Jacobs, Jaco: Viskos! ( LAPA, 2016) Illustrasies deur Zinelda McDonald.

Troeteldierdag is Dennis se geleentheid om sy goudvis Flaffie skooltoe te neem. Niel die skoolboelie, laat Flaffie in die toilet afspoel. Gelukkig kom Flaffie weer te voorskyn. Die wetenskap onderwyser kry nie kans om  sy nuwe eksperiment met die kinders te deel nie, maar tot Niel se verbasing begin Flaffie hik, eet sy wiskund huiswerk op en word al groter en groter…Meneer Newton se groeiformule het gewerk, en die skoolboelie leer sy les.

‘n Beginner leesboek wat elke kind sal geniet. Die storie is verbeeldingryk en snaaks, en McDonald se illustrasies is in die kol om die hele ervaring nog lewendiger en snaakser te maak. Baie oulike boek.

Ellison, Peet: Timmertak se nuwe avonture( H&R, 2016) Afrikaans deur Kobus Geldenhuys. Ook in Engels beskikbaar as Timbertwig’s new adventures.

 

Timmertak is ‘n gewilde karakter in die bekende Storieman-reeks, en hier kry kinders 4 nuwe avonture met Timmertak en Abigael die towerspinnekop wat in sy hoed bly. Haar hoedhuisie is vol hare, en die towerspreuk om die hare te laat verdwyn loop lelik skeef toe Timmertak se wenkbroue verdwyn. By die skool gaan dinge nie beter nie, en Abigael laat ook sy uitskryfwerk om nie onderwysers te treiter nie, skeef loop. Timmertak kry ook te doen met ‘n vlooisirkus en die vlooie weet hoe om selfs Ouma Kwas te laat jeuk.

Abigael toor twee yslike wit eiers so groot soos rugbyballe. Die volstruis Piekel broei uit, en uit die ander eier verskyn ‘n klein krokodil! Hy is vasbeslote om Piekel te leer vlieg, min wetende dat volstruise mos nie kan vlieg nie. En Ouma het die krokodil agter die kinders in die swembad ingegooi-elke kind het daardie dag ‘n swemrekord opgestel!

In die laaste storie verdwaal Skitterkind , ‘n babaster en beland in die dam. As sy nie gou gered word nie, sal haar liggie vir altyd uitgedoof word. Eers help hulle om ‘n klomp ballonne uit ‘n doringbos en weg van die stekende Goorgogge te lei; en op hul beurt help die ballonne weer vir Skitterkind om weer in die lug te kom. :”van waar hy in sy bed lê…wonder hy of Skitterkind veilig by haar huis aangekom het en wat die ander sterre van Kameelperd, Worshond en Nlom – die ballonne gedink het wat met haar huis toe gevlieg het”.

Die boek sluit ‘n oudio-CD in. Wonderlik verbeeldingryke stories met die interessantste karakters en name wat hierdie ‘n uiters gewilde voorlees en selfleesboek gaan maak.

7+jariges:

 Viljoen, Fanie: Oepse daisy, Lulu( LAPA, 2016)

Lulu se ma en pa vertrek om die modeweek in Londen by te woon. Hulle verras haar egter met die nuus dat haar geliefde tante Tula-Belle by haar kom bly want sy moet in n groot operakonsert sing.

Lulu nooi sommer dadelik Carmen om ook ‘n paar dae by haaar te kom bly om die tante te ontmoet.

Anaf haar aankoms begin die huis ghaoties raak- sy het ‘n magdom klere en juwele saamgebring; en gou is dit duidelik dat sy met niks tevrede is nie- die kok se kos is sleg, sy is allergies vir alles, en sy krap vreeslik om. Skielik verdwyn haar duur ring en sy beskuldig sommer die tweeling langsaan van diefstal.

Toe sy ontdek dat Lulu ook rokke ontwerp dring sy daarop aan dat Lulu die rok maak wat sy met die groot aand gaan dra. Maar al Lulu se pogings is netnie reg nie. Toe word die konsert ook gekanselleer, en Lulu reel sommer dat hulle ‘n vertoning in die tuin hou. Wanneer die tante haar sang oefen, klink dit nie te wonderlik nie. Lulu besef geleidelik dat haar tante vernader het en dat sy nie meer so baie van haar hou nie. Die konsert eindig ook in ‘n fiasco toe ‘n donderbui uitbreek, maar nou hoor sy eers wat werklik haar tante se situasie is.

Jonger lesers , veral meisies wat modebewus is en aanklank vind by die illustreerder se amper naïwe sagte waterverf illustrasies- alles baie “girlie”-rig, sal die storie geniet. Veral ook as hul reeds met die hoofkarakter kennis gemaak het in die vorige twee titels- Bravo, Lulu en Oelala, Lulu en haar geniet.

‘n Bonus is die skrywer se lewenslessie wat so sagkens ingewerk is. 

 

  

 

 

9-12jariges:

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe – Vent of vriend?( H&R, 2016)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

5 Boeke het reeds in hierdie gewilde reeks verskyn, en in die volgende avontuur is daar glo ‘n groot drama met ‘n Lama.

Lotta, Chantelle en Paul besoek die stad se swembad sodat dit nog ‘n bietjie na vakansie kan voel want die skool het weer begin. Hier spat sy per ongeluk ‘n vreemde seun wat ‘n onverstaanbare taal praat nat. Paul sê dit is Frans. En toe is hy nog die nuwe seun in die skool. Rémi moet langs haar sit, en Lotta kan nie die reuk van sy aaklige vrot kaas uitstaan nie. Die ergste is dat hy sommer gou smoorverlief    op haar is, en Lotta moet besluit of hy vent of vriend gaan wees.

Lotta aanhangers behoort hierdie nuwe boek in die reeks te geniet. Weer is daar die gebruiklike humor versterk met die sketse , letters in verskillende groottes en emosies wat duidelik op hul gesigte uitgebeeld word.   Gaan hy ‘n lid van hulle bende word? En sal hy tog leer sy is nie Lothar nie,maar Lotta. Flippit!!

 

Jeugboeke:

Taute, Dihanna: Die Engelsman in my slaai(H&R, 2016)

Ek en Prins Donkerkuif, die eerste titel in die reeks,   word gevolg deur  Die Engelsman in my slaai. Lehandi trek terug  Vrystaat toe na haar ma se egskeiding. Die langafstand verhouding met Drayke loop nie te lekker nie. In haar nuwe skool ontmoet sy Elmie en Megan en hulle word gou vriende. Vandag is ‘n “dress-up” dag vir dieremishandeling. Die skool se sexyiste ou Garth Johnson is ‘n koei, en hy probeer haar aandag trek:” Sy oë betower my. Hou my gevange. Ek moet oppas, anders beland e kook onder sy magic spell. Soos al die ander zombie-poppe wat agter sy lyf aan is.”

Om dinge interessanter te maak begin haar ma Vis-van-Breda se pa date; haar stiefma maak haar ‘n babasussie ryker, en  Garth maak dit baie duidelik dat hy geïnteresseerd  is in haar.

Lekker ligte leesstof vir meisies wat wil ontspan sonder veel inspanning! Gemaklike skryfstyl; baie onopgesmuk en plat op die aarde.

Wasserman, Elizabeth: Elf dae in Parys( Tafelberg, 2016)

Vir 11-14jariges wat ‘n storie met meer lyf soek, sal hierdie elf dae in Parys genoeg bevrediging gee.  

Nie net doen die skrywer moeite om baie inligting oor Parys –die kunsmuseums en ander besienswaardighede by te voeg nie, maar ook skets sy hier ‘n onverwagte avontuur wat Emma en haar vriende lekker onkant vang.

Haar ouma Hebsodemma moedig haar aan om die elf dae in die wintervakansie die skooltoer mee te maak.

Juffrou Lategan die Franse juffrou is hul chaperone. Die twee meisies wat sy ken is Tombisa-die eksotiese Afrika prinses, en Clarissa, die klas se flerrie.

Haar ouma se geskenk is ‘n sagte sakkie van swart fluweel met ‘n rekbandjie wat sy moet gebruik om alles in te bêre wat sy veilig wil bewaar. Hulle gaan tuis by Mevrou Flaubert by wie hulle ook Franse klasse gaan loop. Haar seun  Luc is hulle kelner.

Met haar eerste besoek aan die Musée d’Orsay  verskyn ‘n houer met heuning  in haar rugsak; en  haar ouma dring aan dat sy na die standbeeld van die sater en sy beertjies moet gaan kyk- ‘n fyn lyn tussen droom en werklikheid begin vorm aanneem vir Emma. Phillibert die sater vertel haar dat sy een van die drie Muse is. Tombisa en die vioolspeler Kimiri is die ander twee. Hulle moet die drie sleutels kry om die krag van kuns vir die stad oop te sluit- visuele kuns, letterkunde en musiek.Een maal elke honders jaar moet die Muse die sleutels in ‘n spesiale seremonie aan die burgermeester oorhandig. Die ritueel hernu die betowering van Parys vir besoekers. :Die seremonie van die Honderd jaar Hernuwing. Die sleutels hou ‘n groot aantrekkingskrag in vir ander rolspelers wat ook hierby betrokke wil wees. En nou is die sleutels weg. Gaan Emma en haar vriende daarin slaag om die sleutels betyds op te spoor?

‘n Gewone skooltoer verander in  ‘n aksie belaaide  avontuur met agtervolgings, gemene rampokkers en allerhande verassings om elke draai! Om nie te vergeet van al die inligting oor Parys en die moontlikheid van ‘n romanse vir Emma nie.

Wie sou nou kon dink dat elf dae in Parys soveel moontlikhede bied vir die leser om defnitief met nuwe oë na Parys te kyk! Hoogs aanbeveel.

.

Lona Gericke Augustus 2016