Monday, June 13, 2016

Afkop groot Kaptein en Zackie...


Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie: die padda-poets( LAPA, 2016)

Die geliefde karakters Zackie en sy vriend Vincent gee hier die geleentheid vir beginner lesers om self ook van hul manewales te lees. Min teks in groot druk maak die leeservaring maklik; en Alex van Houwelingen se illustrasies is in  die kol met dierbare kindergesiggies wat spreek van ondeundheid en pret.

Toe Zackie en Vincent besluit om die padda Meneer Slym skool toe te neem om die tweeling ‘n poets te bak – twee meisies wat van pienk en ponies en prinsesse hou, word selfs die boelie Anton verras met die meisies se reaksie!

Jacobs, Jaco: Z is vir Zackie- Die rowwe resies( LAPA, 2016)

Zackie en incent verf hul kaskar om aan die resies deel te neem. Anton die boelie het natuurlik ‘n duur, vinnige kar en is reg om die twee te wen. Maar hul kaskar se wiel val af, en Anton is die wenner. Maar Jolanda het ‘n foto van die resies geneem, en wie verdien nou om te wen?...

Jaco Jacobs skryf weereens in die kol met sy aanvoeling vir die gedagte-en ervaringswêreld van die kind. Twee boekies wat Zackie nog meer aanhangers gaan besorg!

Biegel, Paul: Die groot klein Kaptein( PROTEA, 2016) Afrikaans deur Daniel Hugo

In die sewentiger jare verskyn hierdie klassieke werk as drie individuele publikasies, hier in een pragtige boek saamgevoeg.

Die klein Kaptein woon in ‘n boot. Hy moet sy boot , die Nooitlek, weer vaarbaar maak om die reis na die Eiland van Groot en Groei te begin. Die kinders in die hawedorpie help hiermee, en Dimi, Dik Druif en Marinka en Bang Tonie word sy metgeselle op die vele avonture wat gaan kom. Hulle vaar deur ‘n draakpoort van klip, vind ‘n geheimsinnige eiland waar mak sirkusdiere hulle inwag; ‘n spookstad waar alles grys is behalwe die plakkate van ‘n kleurvolle vrou; die land van Waan en Wys; en later die land van Skrik en Vrees.Seerower Skobbedonk op sy spookskip sal eers losgetoor word van die stuur van die boot wanneer die skate wat hy gesteel het by al die regmatige eienaars afgelewer word. En die klein Kaptein is gedetermineerd om dit reg te kry…

‘n Fees van fantasie met kleurvolle karakters en verbeeldingryke situasies wat aan jong lesers ure van vermaak gaan verskaf. Marinka wat elke probleemsituasie prober oplos met pannekoek bak; en Bang Tonie wat gedurigdeur te bang is om homself te laat geld.

Die teks word aangevul met ongelooflike illustrasies deur Carl Hollander. Kleurvolle volblad illustrasies van ‘n reus teenoor die klein bootjie; kleurvolle blomme met die kinders wat die groot sakhorlosie prober dra; skrikwekkende drake; seetonele met vlieende visse; sirkusdiere; ‘n grys stad; Vader Bloukrap se seetuin; ‘n vuurtoring wat hoër gebou moet word; selfs ‘n kameelperd in die woestyn; ‘n drywende stad; en ‘n wit yskasteel waarin die hartseer edeldame woon- hierdie is ‘n fantasie wêreld waarin elke kind wat lief is vir lees weer en weer ‘n nuwe avontuur kan beleef. En die boek is ook ideal vir voorlees . Hoogs aanbeveel as ‘n baie spesiale boek, knap vertaal deur Daniel Hugo.

Tiener boek:

Viljoen, Fanie: Afkop( LAPA, 2016)

Doller as afkop kan dit mos nie gaan nie! Of hoe?

Fanie Viljoen neem die leser hier op ‘n wilde spannende opwindende rit wat net groei en aanhou sodat jy amper nie asemhaal voor dit by die laaste bladsy kom nie!

Trent wil so graag inpas by ‘n groep jongmense dat hy enige iets sal doen; selfs saamgaan op ‘n motorrit in ‘n gesteelde motor wat eindig in ‘n ongeluk met net hy wat agterbly en toe die sak ontdek met die half miljoen Rand daarin. Decker vertel  hom later:

“ Omdat jy so needy is . Jy wil saam met die groot ouens speel, maar hulle wil nie saam met jou speel nie”.

Eers is daar die genot van soveel geld net vir himself te hê. :

“ Dis tweehonderdrandnote. Daardie oranje luiperds wat nog nooit ‘n draai in hierdie kamer of my beursie gemaak het nie.”

Maar gou verskyn sy sogenaamde vriende ook op die toneel en dit verander in ‘n toutrekkery- wie gaan nou wegkom met die geld? Ongelukkig is die regte eienaars gou  op hul spoor, en die hele riller word groter en gevaarliker vir hulle almal. Wat gaan uiteindelik gebeur? Sal die jongmense ontsnap uit die hande van die dwelmsmokkelaars?

Viljoen skryf hier op sy beste met ‘n sekere hand en tegniek wat getuig van ervaring. Die taalgebruik is eenvoudig; die spanningselement word gehandhaaf, en dan is dit ook ‘n toets vir Trent om te besluit wat vir hom die belangrikste is- die geld of ‘n terugkeer na sy normale bestaan .

Op ‘n stadium sê hy:” skietgebedjies met beloftes om vir altyd en ewig ‘n model tiener te wees as hy net lewendig kan uitkom”.

Spanning en intrige op ‘n gevaarlike drafstappie, soos ‘n weghol trein wat nie tot stilstand wil kom nie! Hoogs aanbeveel; Viljoen se lesers sal weer kennis maak met sy besondere talent.   


 

 

 

.

Thursday, June 2, 2016

Snitch is a youth novel of note


Bulbring, Edyth:  Snitch( Tafelberg, 2016)

Ben and his two friends Tsietsi and William are just regular kids at school; Ben plays rugby and does well at school. He has a sister and mother, his father died, and his mother  is the person he can confide in; she never blabs.  But when he tells her that Adrian’s unexpected heart attack might be caused by steroids, she breaks their code of not telling by talking to a nurse and the story gets back to the school. This makes Ben an outcast; the boy everybody loves to hate. Ben is now the rat, the weasel, the sneak. “No longer Ben-OK. I was Snitch”.

This is the beginning of a very rough period at school. He is treated with disrespect, abused, and eventually his two friends are also targeted and this results in him losing his two best friends.

Will Ben survive this ordeal; is this the test of his personal strength? His dad left a letter for him with the following comment: “My hope for you is that you will have decided to stand outside the boxes that trap the ones who race with the pack”.

A brilliantly written utterly believable story of a boy and his experiences as a teenager in a school environment, but also with his family, Uncle Charlie , the dog Terror, the girl Elizabeth who he worships mostly from afar.

The writing is exceptionally good; written in the first person, Ben is the narrator, and the author does not waste a single word in telling a story which moves at a fast pace and keeps you involved. Bulbring is a writer of substance and noteworthy. I am sure the book will be well received and well read.    

Wednesday, June 1, 2016

Drie prenteboeke uit Afrika en nog boeke vir peuters en kleuters!


Drie prenteboeke deur Jacana uitgewers beïndruk met hul Afrika aanslag:

Hartman, Wendy: Die musiek van Afrika( JACANA, 2016) met illlustrasies deur Joan Rankin. The African orchestra is ook beskikbaar in Afrikaans, isiXhosa en isiZulu.

“Uit ‘n rietfluit se pypie sypel ons liriek op die maat van die Afrika –luit se musiek”

Hierdie pragtige prenteboek is die resultaat van die samewerking deur twee ervare kinderboek skeppers.Die skrywer gee gestalte aan die musiek van Afrika, die geluid van krieke, torre, paddas; knetterende vure, donderende hoewe; die voëls in die lug die ritselende wind; die warmte in knetter en knal; sprinkane wat die klik op vingerpunte is, ‘n padda wat sing vir die maan …

Joan Rankin se fyn waterverf illustrasies vul die lieflike poëtiese teks volkome kleurvol en baie oorspronklik aan. ‘n Boom in die nag is silwer gekleur en drie uile is mooi versteek tussen die takke; haar kleurskakerings werk saam om sagte strelende prente te skilder.Waarlik ‘n baie spesiale boek ; die musicale teks sal tog te lekker voorlees! Hoogs aanbeveel.

Stewart, Dianne : Dudu se mandjie ( JACANA, 2016) Illustrasies deur Elizabeth Pulles. Ook in Engels, isiXhosa en isiZulu.

Dudu maak haar eerste geweefde mandjie klaar. Haar oom vertel haar dat haar eerste mandjie verkoop of weggegee moet word. So koop ‘n handelaar die mandjie by ‘n padstalletjie; dit word eers gebruik vir vars gemmer; toe die meneer se mandjie vir sy kos om werktoe te gaan. Later weer is groente en vrugte na kopers se huise daarin gedra. ‘n Dogtertjie kkry die mandjie om haar hamster in te sit; maar gooi dit gou op ‘n ashoop as die hamster weghardloop. ‘n Kleinseuntjie kry die mandjie en sleep dit strand toe waar ‘n brander dit gryp en intrek in die see.

Maar dit is nognie die einde van die storie nie!

Die waterverf illustrasies het ‘n amper kinderlike bekoring en Pulles teken prentjies wat aanpas by ‘n landelike mileu en die see. Dit is ook lekker om te lees van gemmer en hoenderkerrie, warm rissiehappies en bros samosas. Die smous wat deur die voorstede ry en sy ware verkoop is so bekend aan ons kinders. Die storie  kan ook in klaskamers gebruik word waar kinders die waarde van om self ‘n eie mandjie te maak kan leer; die lewensverhaal van Dudu se mandjie is ‘n geloofbare storie en eg uit Afrika.

 

Browne, Eileen: Handa se verrassing( JACANA, 2016) In Afrikaans vertaal deur Marlise Joubert.

Goed onthou ek nog hoe die boek my beïndruk het toe ek dit destyds in Engels in die biblioteek ontvang het. Dit is die lekkerste verhaal om te vertek- Handa wat sewe vrugte in ‘n mandjie pak vir haar maatjie, Akeyo. Systap na haar dorpie, enoppad wonder sy watter vrug haar maat nou die meeste gaan hou. Soos sy ‘n spesifieke vrug opnoem, is daar ‘n dier wat skelmpies die vrug uit haar mandjie op haar kop steel! ‘n Volstruis steel die koejawel, ‘n Sebra die lemoen;’n olifant die rooi mango; ‘n kameelperd die pynappel’n bok gaps die avokadopeer… en toe haar mandjie dolleeg is bestorm ‘n bok gelukkig ‘n boom gevul met nartjieswat weer die mandjie vul- en gelukkig ook haar maat se gunsteling vrug!

Die verhaal werk op verskeie vlakke- die illustrasies van die diere en vrugte is kleurvol en realisties gedoen; daar is die oulike spannings element van ‘n dogtertjie wat onbewus is dat die vrugte een vir een uit die mandjie verdwyn- hier is die leser of luisteraar dadelik betrokke want ons ervaar aksies waarvan die meisie onbewus is!   Die tweedogtertjies is pragtig en so mooi geteken- ‘n boek met die mooiste ryk kleure wat Afrika in sy verskeidenheid van diere en vrugte gestalte gee. Hoogs aanbeveel.

Handa’s surprise is ook beskikbaar in Xhosa, Zulu, Lesotho Sesotho, South African Sesotho, Sepedi, Setswana en Xitsonga. 

‘n Kleurvolle fees van boeke vir kleuters en peuters!

Supersagte sponsboekies ( H&R, 2016 ) In Afrikaans vertaal deur Kobus Geldenhuys.

‘n Reeks van 4 boeke- Ek kan sê!; Ek kan ry!; Ek kan speel! en Ek kan sien!

Die materiaal waarvan die boeke gemaak is maak hulle lig om te hanteer en ook baie stewig. Uiters keurvol met eenvoudige illustrasies sodat objekte maklik ge-identifiseer kan word. In die eerste boekie is daar ‘n blink sappige rooi appel; blomme; ln huis , bome ‘n blou skoenlapper , vrugte ‘n sambreel en roomys en ‘n horlosie. Identifikasie van die spesifieke item word aangevul met teks ,bv. Dat die blomme lekker ruik en mooi is.

Ek kan ry gee voorbeelde van al die bekende vervoer-middele soos ‘n brandweerwa, ‘n trein, polisiekar en fiets.

Ek kan speel stel die kind bekend aan speelgoed soos ‘n xilofoon, lappop, ‘n robot en ‘n drom.

Ek kan sien bevat diere soos ‘n leeu en troeteldiere, ‘n papegaai en pikkewyn.

Die aanvullende teks rym ook met die item op die volgende bladsy se teks, wat die hele leeservaring speels en vrolik maak.

 Lekker boekies om babas en kleuters aan boeke bekend te stel.

Blokkieskuns( H&R, 2016)Seerowers, Prinsesse, Diere en Voertuie

‘n Reeks van 4 titels met blokkieskuns wat elk meer as 1500 pikselplakkers insluit sodat kinders met die nodige handvaardigheid besig kan bly met die plad van ‘n afdruk van die objek op die teenoorgestelde baldsy . Voertuie, diere, prinsesse en  seerowers kan geplak word . Elke opdrag gee die kleure wat gebruik moet word, en ook hoeveel plakkers van elke kleur.

Skeppende kinders kan lank besig bly met hierdie boeke!

Vingerverf 1 en 2 (H&R, 2016)

Watter kind sal dit nie geniet om vingerverf te doen nie!  Hier is die geleentheid oom diere, indiane, marsmannetjies, op die plaas, krokodille en nog baie meer situasies in te kleur met die vingerverf wat by die boeke ingesluit word.  Vir tuisversamelings; en sommer ‘n lekker geskenk vir vriende.

Liewe Heksie en die Silwer Roos( H&R,2016) Gebaseer op die oorspronklike verhale deur Verna Vels met illustrasies deur Vian Oelofsen.

Wat ‘n pragtige huldeblyk aan Verna Vels is hierdie groot formaat goudkleurige boek nie! Liewe Heksie staan lekker groot met die Silwer Roos in ‘n pot teen die goue agtergrond, terwyl ‘n gifappeltjie hande uitsteek na die begeerlike roos.

Die Silwer Roos is Blommeland se kosbaarste blom en moet soos goud bewaar word, want as dit moet wegraak sal al die blomme doodgaan en koning Rosekrans en sy kabouters en Heksie sonder ‘n blyplek wees.

Daarom kry  Heksie die opdrag om die blom op te pas want die gifappeltjies wil die Roos steel.

Sal Heksie daarin slaag, of moet Griet die getoorde perd tot haar hulp kom? Liewe Heksie vertel mos ander hekse toor paddas en muisvlerre- vlermuise- maar sy toor vir Griet!

Liewe Heksie is mos maar geneig om te vergeet en goedertrou op te tree!

Die mooiste mooiste boek! Vian Oelofsen laat die verhaaltjie blom en skyn en die leser betower met vrolike geel blomme, ‘n reuse perd, en hier die mooiste Silwer Roos ooit.  Die kleure van die agtergrond op elke bladsy is slim gekies sodat die illustrasies mooi vertoon en nog treffender is. Hoogs aanbeveel as ‘n ware kunswerk en defnitief vir elke skool, huis en biblioteek versameling.