Monday, April 18, 2016

'n Reis van Pippie Langkous na klein heksie, olifant se vraag en seestories


Lindgren, Astrid: Pippie Langkous-omnibus( H&R, 2016)Afrikaanse vertaling deur Nerina Ferreira

‘n Omnibus van die drie boeke in die reeks:  Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee dien ook ter viering van haar 70ste bestaansjaar!

Dit was genoeg motivering om persoonlik op ‘n nostalgiese reis te gaan en weereens te ontdek waarom Pippie Langkous so gewild gebly het.

Wie kan nou nie vereenselwig met ‘n dogtertjie wat absoluut as individualis die lewe aanpak nie! Sy is buitengewoon sterk; sy woon alleen in Huis Winderuis met haar apie Meneer Jakobs , ‘n perd ,en ‘n tas vol goue muntstukke wat haar in staat stel om kinders op lekkers en speelgoed te trakteer en altyd sorg vir lekker eetgoed ook vir die twee kinders Tommie en Anneke wat gou bewonderaars word van die eienaardige dogtertjie. Sy beskerm ‘n seuntjie teen sy vyf aanvallers; sy hoef nie skooltoe te gaan nie; is nie bang vir ‘n woedende bul nie; tree selfs in ‘n sirkus op ; uitoorlê twee inbrekers; tree as lewensredder op en is bra onverfynd op ‘n koffieparty, om maar ‘n paar van die avonture te noem.

Wat die omstandighede nou okal is, Pippie slaag altyd daarin om die situasie te red.

Jong lesers wat hulle kan inleef in haar fantasie-wêreld sal die skerpsinnigheid en humor geniet; en Pippi behoort ook in 2016 bewonderaars te werf!:

“Die sterre blink bo Huis Winderuis se dak. Daarbinne is Pippie. En sy sal altyd daar wees…”

(Net jammer dat die bladsyverwysings vir haar twee briewe op bladsy 248 verkeerd is: die briewe is op 158 en 215 nie 156 en 213 nie. Ook op bladsy 93 die setties i.p.v seties.)

Vanden Berg, Leen en Vermeire, Kaatje: Olifant se vraag ( PROTEA, 2016)Uit Nederlands vertaal deur Shané Kleyn.

Elke jaar hou die diere ‘n vergadering op ‘n heuwel waar moeilike kwessies bespreek word. Mier lei die groep en uiteindelik wil Olifant weet: Hoe weet mens dat jy iemand liefhet? Dit gee die geleentheid vir die diere om te antwoord en hul eie interpretasie te deel- muis het so sterk soos ‘n olifant gevoel; Sneeuwitjie vergeet met ‘n soen van al die naarhede; klip kry lekker warm langs sy geliefde; see kry ‘n hupstootjie van die wind; appelboom deel die son met haar geliefde; ysbeer voel of hy op ‘n warm eiland is, en die sneeuvlokkies smelt vir mekaar. Mier verdaag die vergadering en noem hul verklarings absolute nonsens. Maar skielik voel sy tog te alleen…

‘n Wonderlike poëtiese teks wat jou aangryp en tot nadenke stem.

Kaatje Vermeire se illustrasies bevat fyn detail en is soos ‘n ontdekkingsreis vir die leser wat genot kan put uit die sterk verbeeldingswêreld gevul met fantasie en interessante voorwerpe soos ‘n tikmasjien, windmeul, ’n drom en trollies en vuurtoring. Dit is  besonder oorspronklik. Etswerk en collages bevat selfs voorwerpe  , blare en figure soos ‘n dogtertjie, dansers en ‘n harlekyn.

 Hierdie boek is in teks en illustrasie as geheel ‘n kunswerk wat gekoester sal word deur lesers wat die prenteboek as kuns waardeer. Dit is natuurlik baie gesofistikeerd en dalk te “volwasse” vir heel jong lesers. Nie dat ek kinders wil onderskat nie!       

Preussler, Otfried:  Die klein heksie( PROTEA, 2016)Uit Duits vertaal deur Amelia de Vaal  Tweede Afrikaanse uitgawe.

‘n Klein heksie is honderd-sewe-en-twintig jaar oud, maar vir ‘n heksie is sy nog ‘n bogkind! So jonk, dat sy nognie toegelaat is om die heksedans op Bloksberg by te woon nie. Abrakis haar kraai raai haar aan om maar hard te oefen aan haar toorkunsies sodat sy kan kwalifiseer vir die volgende dans. Volgens Abrakis moet sy haar towerkrag gebruik om goeie dinge te doen. Sy help drie tantes om vuurmaakhout in die woud te kry; toor papierblomme om ‘n heerlike geur aft e gee; red twee kinders se os wat die prys sou wees by ‘n skietwedstryd; en o.a. toor die kraai en haarself sodat hulle nooit weer koud hoef te kry nie. Maar is ‘n regte heks nou veronderstel om goeie dinge te doen? Voor die hekseraad kry sy haar antwoord, maar slaag tog daarin om die enigste heks op aarde te word wat kan toor!

Die vertaling lees lekker en die verhaal as geheel het ‘n ligte vrolike aanslag aangevul deur die kleurvolle illustrasies wat toepaslik is vir die tyd waarin die boek oorspronklik geskryf is.

Die boekie is keurig versorg en hierdie onskuldige soms verstrooide naïwe heksie behoort lesers te lok.

Maartens, Wendy: Stories van die see( PROTEA, 2016) Met illustrasies deur Marjorie van Heerden. Ook in Engels beskikbaar as Sea stories.

Hierdie versameling seestories in ‘n stewige hardeband groot formaat boek trek dadelik die aandag met die pragtige omslag deur die illustreerder in seegroen kleure van ‘n vrou wat heerlik verstrengel swem in ‘n groen kolwende see.

Die skrywer meld dat sy nie by die see grootgeword het nie, en dus was sy haar hele lewe lank oppad see toe. Vandaar seker die behoefte om stories van die see te herroep.

27 stories word vertel en hervertel; soos die verhaal van Wolraad Woltemade, die Vlieënde Holander, Hans die seun in Nederland wat die gat in die dyk met sy vinger toegehou het en so die water kon keer. Welbekende stories word nuut oorvertel, en meer romantiese vertellings word afgewissel met inligting oor hoe dryfsand is en waarom die see sout is ; hoe dolfyne hul glimlag gekry het en die ryk vrou van Stavoren moet leer om nie so gierig te wees nie.Lesers met ‘n liefde vir fantasie en legendes sal bykomende inligting kry met die Het jy geweet stukkies aan die einde van sommige van die verhale.

Daar is ‘n goeie balans gehandhaaf en genoeg afwisseling om die leser betrokke te hou. ‘n Bronnelys is ook aangeheg.

Kleurvolle volblad illustrasies word afgewissel met swart-en wit prente. Sommige illustrasies soos die dubbelblad voor die inhoudsopgawe van ‘n dogtertjie wat kennis maak met ‘n meermin op die strand; Wolraad Woltemale se perd  en die dansende dolfyne is besonder treffend, maar dieselfde kwaliteit ontbreek soms in kleiner illustrasies soos twee leeus op bladsy 82. Tog is die geheel lewendig , vol beweging en verbeeldingryk met ‘n amper kinderlike amper naïwe aanslag wat kinders sal geniet.

 Daar bestaan nognie so ‘n spesifieke versameling met seestories in Afrikaans nie, en die boek leen hom dus vir voorlees; tuisversamelings en vir biblioteek gebruikers spesifiek op soek na stories oor die see.