Thursday, February 25, 2016

Jasper beleef 'n herdruk!


Jasper-reeks:

Beyers-Boshoff, C.F.:  Jasper op hoërskool; Jasper die rugbyheld en Jasper se plaasvakansie( PROTEA, 2015 /2016)

Die gewilde reeks oor die manewales van Jasper en sy bende het reeds in 1959 verskyn, die eerste uitgawe het drie herdrukke beleef.  PROTEA uitgewers skep‘n tweede uitgawe en eerste druk, met splinternuwe meer speelse omslae , elke boek geklee in ‘n interessante agtergrond van geel, pers en seegroen.

In biblioteke het die reeks steeds in aanvraag gebly; miskien ook waar ouers bekend was met die reeks en dit weer aan die volgende geslag aanbeveel het. Dit het ‘n persoonlike her-lees regverdig; ek wou sien hoe ‘n volwasse leser in 2016 op die boeke reageer.  Die vraag is natuurlik of die boeke aanklank gaan vind by vandag se seuns?

Vanaf Jasper se hoërskool-dae word die leser geneem na ‘n tyd en omgewing van gewone kleindorpie- seuns en hul wêreld van rugby, perskes steel,  ‘n resies met seepkiskarretjies, kleiosse, skelm rook in ‘n rietbos, en tussendeur is hulle ook ‘n dapper bende wat help om diewe te vang.  As rugbyheld moet Jasper kompeteer met die nuwe seun wat ook losskakel speel en Jasper sy verkose posisie laat inboet. Sy ma dokter nog met kasterolie, die land se Provinsies is nog Transvaal en Vrystaat, en lyfstraf deur onderwysers is ‘n aanvaarde praktyk.

Van die drie boeke het ek Jasper se plaasvakansie die meeste geniet. Miskien ook as dorpsjapie wat nostalgies voel oor ‘n ongekunstelde plaaslewe soos beleef in die sestiger-jare.

Die seuns leer koeie melk, word vriende met Mossie ‘n plaaswerker, jag tarentale; kry 75sent vir ‘n broeishoender wat hulle verrruil vir patrone; hulle kry die blink gedagte om ‘n gewig aan die bul se stert vas te maak om te verhoed dat hy weer deur die rivier loop na die buurman se grond;  en ry donkies.

Jasper red ‘n hond en haar kleintjies uit ‘n brandende skuur, en sy grootste oomblik op die plaas is die jagluiperd wat hy doodskiet en oom Martiens van die dier se kloue red. Die suens vind uit ‘n arend op sy nes is ‘n moeilike kalant om mee kragte te meet, en bye moet ook met handskoene hanteer word!  Jasper en Ferdinand se klere word by die swemgat weggesteek, en hulle moet poedelnakend by die dominee se vrou verbykom. ‘n Verveelde Jasper laat val sy albasters in die kerk, en dominee se straf is dat hy kaartjies vir die Sondagskool-konsert moet verkoop. Hulle kry ook ‘n kans om Mossie bang te maak, maar word self ook bang gemaak deur die ondeunde Kiewiet.

Die boeresport-dag gee hul weer die geleentheid om deel te neem aan ‘n sakresies, ‘n hardloop kompetisie en ‘n resies op die rug van donkies.

Wanneer Jasper ‘n pop wen wat ‘n oulike meisie uigeloot het, verdwyn hy tipies seun. “ Jy kan maar sê hy het soos ‘n groot speld verdwyn”.

Hierdie reeks het ‘n belangrike plek in die ontwikkelingsgeskiedenis van die Afrikaanse kinder en jeugboeke in Suid Afrika, en as kulturele/sosiale  kommentaar  vertel die boeke ‘n verhaal van seuns wat nog verfrissend kind is; wat plesier vind in speel en kattekwaad op ‘n onskuldige wyse.

Lona Gericke Februarie 2016

 

     

 

No comments:

Post a Comment