Sunday, July 19, 2015

Soene en sirkusse, 'n honger leeu en 'n moordenaarsklok...


 
 

Banscherus, Jürgen: Speurder Kwaaikofski –soene en sirkusse(H&R, 2015)

Speurder Kwaaikofski word besoek deur Pedro van Zampano se sirkus.  Hy het hom nodig om vas te stel waarmee sy suster Vanessa haar besig hou- dalk met iets onwettig. Met hul vertoning as die Magiese Martelli’s gooi sy kegels en  elke keer gooi sy deesdae een mis wat dan weer dadelik akkuraat uit die gehoor na haar teruggegooi word.

Kwaaikofski word vergesel deur Olga van die kiosk om ‘n vertoning by te woon waar hy miskien sal kan vassstel waarmee Vanessa besig is. Selfs bekwame speurders soos Kwaaikofski kan flaters began as dit by ‘n ondersoek kom! Gaan dit toe uiteindelik om soene – hy is juis dodelik siek nah y Olga met ‘n soen oorrreed het om hom te vergesel!

‘n Gewilde reeks, die teks is lig en humoristies, en die illustrasies help om die hele leeservaring lekker te maak. Veral die leesbare grootdruk sal beginner lesers verwelkom.

Smith, Alex: Grietjie en die baie honger leeu( LAPA, 2015)Afrikaans deur Jaco Jacobs

Grietjie ontvang ‘n dringende oproep van tannie Poppie om te kom help, want sy is oortrek met kolle.

Die pad  is lank- Grietjie stap oor slapende krokodille, onderdeur kameelperde, en verby kwetterende apies, sluip tussen miershope, deur waai vir meerkatte en gaan sit in die skadu van ‘n boom om te rus.

Nou kom die geleentheid vir ons heldin om haarself te bewys, want ‘n honger leeu is reg om haar en tannie Poppie op te vreet. Wie gaan vir wie uitoorlê?!

‘n Lekker groot formaat-boek met illustrasies wat vol verbeelding en humor is. Die aanslag is modern, en jong lesers sal dit geniet om te sien watter komiese transformasie die honger leeu ondergaan, terselfdertyd is daar die subtiele les om nie kinders en tannies te wil opvreet nie! Baie lewendig en kleurvol.

Brain, Helen & Webb, Nicky: Tania en die perdry-kompetisie ( H&R, 2015)    Illlustrasies deur Rico Schacherl Ook verkrygbaar in Engels as Jamie and the horse show.

Tania en die towerfluitjie was die eerste avontuur in hierdie reeks- veearts-vriende.

Die  leser word weer bekend gestel aan ‘n uiters deurmekaar gesin- Arabella is die veearts ma; die Professor wie se onderbroeke gedurig in die toilet beland die pa; daar is Tiek en sy maat Chanza en Bieber Tiek se aap; die ouer boetie Tobie en natuurlik Tania die suster wat so graag die perd Oreo van Mevrou Bunhoffer wil koop maar natuurlik nie genoeg geld het om so ‘n spesiale perd te koop nie.  Die titel laat ‘n mens ‘n perdestorie verwag, maar hier is daar ‘n versameling van korter hoofstukke met snaakse insidente,   en selfs word ‘n ma-kat gered en ‘n gehawende African Grey neem ook sy intrek in ‘n reeds chaotiese deurmekaar huishouding. As die toilet nie aan mekaar

 verstop nie, maak die jong seuns vir die finale perderesies gemmerbier wat heelwat konsternasie veroorsaak, en bak die Professor ‘n quiche wat selfs hy nie kans sien om te eet nie!. Wat Tania betref word sy in haar gehawende ryklere op die moelike perd McTavish gestel teenoor die ryk versorgde meisie Shardonnay en haar ma Liberty Barker-Polls, lg. was saam met Arabella die veearts, op skool. Natuurlik “koop” Shardonnay   die perd wat Tania oor droom, maar is dit regtig die einde van Tania se droom?

Vir my verloor die boek memento deurdat die hooftema gedurigdeur afgewissel word met ander insidente , en hoewel die skrywer soms snaaks is en onderhoudend kan vertel, is sy sterker as verteller van komiese huishoudelike situasies en nie regtig so oortuigend met die uitbeelding van Tania se behoefte aan ‘n wenperd nie. Tania as karakter is ook te veel bewus van hoe sy afsteek teen die welgestelde opposisie- Shardonnay, en ‘n mens kry die gevoel van sterk selfbejammering met tye. Die vertaling is ook by tye lomp. Fifi die niggie wat lispel met haar naïwe opmerkings is soms die mees geloofbare karakter!  Die insident waar die kat met die drie kleintjies se lewe gered word is oortuigend gedoen, en dit is baie duidelik die bydrae van die medeskrywer Nicky Webb, ‘n veearts.

Die boek is geskik vir 8-10jariges en sal veral byval vind by lesers wat hou van snaakse insidente rondom ‘n gesin waar daar nooit ‘n vervelige oomblik is nie, en mens soms lekker kan lag vir hul manewales!

Vir 12-18jariges:

Verwey, Pieter: Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok( Tafelberg, 2015)

Clint Eastwood van Wyk , sy neef Budde wat so pas uit Amerika aangekom het vir die vakansie, sy ouers en die hond Walkabout- ‘n volgroeide boerboel bring die vakansie deur op die plaas Klleinbrandskraal in die Moordenaarskaroo waar sy pa glo ‘n groot argeologiese ontdekking gemaak het. Die enigste ander twee mense daar is Johnny oftewel Kiewiet en Oupa Gammie, ‘n regte Griekwa.

Dink jy as leser dit gaan ‘n gewone vakansiestorie wees? Dink weer! As dit nie sy ma is wat navorsing doen oor spoke nie, is daar die oerskerpioen wat sy pa ontdek het; Oupa Gammie se vertellings van die Karoo se baie stories – oor meerminne, ‘n Waterslang , ondergrondse mere en ‘n bobbejaan –die vermoorde Jan Prinsloo, ‘n spookhuis en selfs geheime waarvan hy hulle nie vertel nie en hulle later mee kennis sal maak.

Hulle grootse avontuur begin die dag toe Walkabout na een van sy rondloper-togte terugkom met ‘n dier in sy bek- ‘n versteende muishond. Prof Theuns besluit die gedierte moet by die Universiteit besorg word, en die jongmense vertrek om uit te vind waar Walkabout dit opgetel het. En wat ‘n wonderlike avontuur word dit nie! Die spore lei na ‘n ondergrondse grot, ‘n meer, versteende diere en drie versteende mensfigure; ‘n moordenaarsklok, ‘n Waterslang in die vorm van ‘n griffioen ,die landing van ‘n Zeppelin, Mr Theobold ‘n Victoriaanse  robot, en Lord Pinion, die eienaar van die Zeppelin. Natuurlik ontwikkel dit tot ‘n geveg om lewe en dood; terwyl die raaisel van die rookwolk en versteende diere en mense ook opgelos word.

Hierdie is ‘n boek geskep deur ‘n skrywer met ‘n verbeelding soos min, en ‘n liefde vir wetenskapfiksie. Retro-fantasie. Steampunk. Tydreise. Seuns sal hul eie verbeeldingsvlugte kan uitleef deur deel te neem aan Clint Eastwood en Budde en Kiewiet se oorlewingstog. Pieter Verwey het’n verhaal geskep wat tot nog toe nie tematies ge-ewenaar kan word in jeugliteratuur nie. Wel gedaan! Sjoe, ek was uitasem gelees.

Pantermüller, Alice en Kohl, Daniela: Lotta se lewe-‘n haas uit die hoed ( H&R, 2015)Afrikaans deur Kobus Geldenhuys.

Lotta se lewe het reeds in vier ander titels die lig gesien: Konyne by dosyne; Bendes, swape en skape; Wieg, wurm wieg;  en My skilpad uit sy dop.

In hierdie vyfde titel in die reeks Lotta se lewe het Lotta waterpokkies en hoef sy gelukkig nie skooltoe te gaan nie. Sy is egter verskriklik verveeld en besluit dat sy ‘n stokperdjie moet kry. Hierdie behoefte vorm die basis van die verdere gebeure. Chantelle, haar vriendin, moet kop bysit. Terug by die skool moet Paul-hy is deel van die Kwaai Konyne bende- ook help, maar hy is meer geïnteresseerd om sy eie toorkunsies te oefen. Die meisies besluit toe om te leer sierskaats doen-nog ‘n fiasko- en dan word hul begeerte om in Zack Zeeman se nuwe fliek as ekstras te speel die hoof-fokus vir die res van die verhaal. Natuurlik maak hul swak gedrag hul onsuksesvol. Die finale belediging is toe Paul vertel dat hy sonder dat hy probeer het,  ‘n rolletjie in die fliek gekry het. Die twee vriendinne ontdek die hasie uit Paul se towerhoed in die park, en speel toe maar met ‘n Frisbee- dalk is dit ‘n goeie idee vir ‘n stokperdjie?!

Lotta se aanhangers sal dit sekerlik weer geniet om te deel in haar eienaardige gewoontes, gedagtes en maniertjies.  Ek het die boek self nie baie opwindend gevind nie, maar gee erkenning aan die illustreerder wat met haar fyn illustrasies en die baie detail, ook met byskrifte , die boek meer lewendig en vermaaklik maak.

Krahtz, Carin: Elton amper-famous April en Juffrou Brom( Tafelberg, 2015)

Reeds met die lees van die eerste twee inleidende bladsye van die boek besef die leser hier is iets baie spesiaal.  Elton vertel in die inleidende naskrif dat hy ‘n prys gewen het vir Afrikaans in Graad 7en nou wil hy sy storie vertel.  Hy woon by sy ma,sy Dad is in Oudtshoorn, en Afrikaans is sy swakste vak op skool. :”Ek wil  hom vertel hoe swaar Afrikaans op my binneste lê”. Maar toe daag die nuwe Juffrou op vir Afrikaans- “Dit was of die wind haar uit nowhere spesiaal vir ons kom aflewer het”. Dit is die begin van Elton se bekendstelling aan die onderrrig van Afrikaans waar kreatiwiteit en oorspronklike denke aangemoedig word; hy mag nou wel nie goed kan spel nie, maar hy het sy ieie unieke aanslag met die taal. Sy beste maat Dawid deel sy drome- hy speel goed krieket, maar geld is min met ‘n ma wat onbetroubaar is en nou ook  haar laaste geld in ‘n piramiede-skema belê het. Sy is amper nooit tuis nie, en heel dikwels moet Elton maar by die Griek aanklop vir los werkies of selfs buite in die koue slaap. Maar dan is daar Juffrou Brom wat altyd op die regte tyd op die regte plek is in Elton se lewe. Hy moet ook uitvind dat al die gissings oor haar lewe tussen die kinders gladnie waar was nie.  En dan het sy daardie wonderlike vermoë om kinders soos Letitzia “vir ‘n se suit te haal!”

Die boek raak jou na aan die hart. Dit is nie net baie goed geskryf nie, maar deurspek met humor en ‘n duidelike  en geloofbare verklaring dat die menslike gees nie blusbaar is nie.

Carin Krahtz ken Afrikaans, en sy kan gerus nog baie skryf! Hoogs aanbeveel. 

 

 

 

 

 

 

 

 

No comments:

Post a Comment