Wednesday, May 27, 2015

Liefde is 'n sprokie!


Liefde is ‘n sprokie, saamgestel deur Santie Nel ( H&R, 2015)

Wie van ons onthou nie daardie heerlike jeugjare op  skool waar die  hunk of dalk net die nerd teenwoordig was waarop jy smoorverlief was nie? Gesprekke het lighartig maar soms bekommerd gegaan oor wie gaan my nooi vir die matriekbal of sal daar iemand wees die vakansie by die see om die tyd lekkerder te maak?  Gaan ek gespot word oor my gesig of maniere of net omdat ek die slimste kind in die klas is? Elke jong meisie wil sekerlik behoort en voel sy is spesiaal vir iemand.

Die Fynbosskrywers  bied hier aan 9-12jariges  ‘n versameling van 22  kort liefdesstories met as uitgangspunt bekende sprokies soos Skoonlief en die monster, Rooikappie , die Paddaprins en die Slapende prinses wat aangepas word in ‘n moderne  milieu.

En watter lekker ligte onderhoudende leeservaring is dit nie! Vanaf die eerste verhaal-  ‘n Wolf, drievarkies en ‘n brilpaddaprins mash-up deur Elizbé van der Colff  word die  leser betrek en hiervandaan word alles sommer net nog lekkerder! Die 22 stories is elkeen van ‘n goeie kwaliteit- die verskillende style is lewendig, vol humor , emosies oortuig en soms is dit gevul met lekker verassings . ‘n Mens kry die gevoel dat elke skrywer haar geniet het om haar storie te vertel, en die leeservaring word dus een van groot plesier omdat die eerlikheid en onopgesmuktheid van die vertelling jou tref.    

Die eerste storie vertel van ‘n kampervaring waar Carla verlief raak op die nerd met die aaklige bril. Dan is daar  Clara se nare stiefma(Lemoenkougom) wat nie Renaldo se rose vir Clara gee nie; Bleeksiel en die skoolhunk- Lila en Gerbrand; ‘n Bungee –sprong vir Alana wat dink sy is lelik; ‘n meisie wat kokaïen smokkel na London; ‘n duikoefening wat amper in ‘n tragedie eindig; ‘n juffrou met toorkragte en ‘n winterbal; Wipstert en Krok- ‘n seun met sy bene in ysterstutte en toe nie so ‘n groot krok nie; Vlam von Huten wat ontvoer word; Naidia se vriendinne wat ‘n ou vir haar soek; ‘n buurman wat tennis speel sodat tennissnare hartsnare word; Cindy die Cinderella wat onwetend haar stiefsuster se pragtige rooi rok na die bal dra; Gentian met sy geheime swart boekie; Keira wat soos haar vriendinne in die mode wil wees; ‘n Prins vir vingerhoedjie- Maia se bynaam; Amika wat selfbewus is omdat sy die langste meisie in die skool is en uitvind sy is model-materiaal; Amelia wat haar woorde moet tel as sy padda vra om saam met haar na die matriekbal te gaan-hy is toe nie so’n groot padda nie!; Erella wat ontvoer word met ‘n kamstige skoonheidsfotosessie; Rosabella in die spookhuis wat met ‘n soen ontwaak; Blinkoog versus Bolletjie-  Elfie se nare stiefma stuur haar na ‘n skool vir kinders met leesprobleme; Munah wie se ma haar soos goud oppas maar met haar lang blonde vlegsel haarself uit ‘n penarie red; en laaste Esther en Lizelle wat kragte meet in ‘n musiekblyspel…….

Hierdie versameling is goed geblanseerd; die aanslag is deurgaans lig en vrolik en getrou aan die jong meisie se ervaringswêreld.

Die samesteller verdien ‘n pluimpie, en elke Fynbosskrywer ook!