Wednesday, April 15, 2015

Olinosters wat kan bangmaak!


Olinosters op die dak deur Marita van der Vyver( Tafelberg, 2015) met illustrasies deur Dale Blankenaar.  Ook in Engels beskikbaar as Rhinocephants on the roof.

Lank en skraal en donker vertoon  hierdie heruitgawe van die boek wat  in 1996 gepubliseer is met illustrasies deur Piet Grobler en toe ‘n MER pryswenner. Hierdie uitgawe is geïllustreer deur Dale Blankenaar, ‘n voormalikge student van Piet Grobler!

En sal Piet nie trots wees op hierdie keurig versorgde pragboek nie!  Dit herinner aan baie van die Europese publikasies, en is ‘n duidelike bewys dat ons uitgewers in Suid Afrika kan kompeteer met die beste boeke internasionaal.

Daniel kuier by sy ouma en oupa en oornag daar in ‘n vreemde bed.  Hy hoor baie vreemde geluide, en telkens moet sy ouma of oupa hom geruss tel dat dit maar net ‘n olinoster of ‘n krokokoei, of ‘n blouwildekameel of ‘n bobberilla is , almal goeters waarvoor hy gladnie bang hoef te wees nie.  Die regte leeu is toe maar net  oupa se bont kat.

“Want wie’s nou bang vir olinosters?  Of ‘n krokokoei of ‘n blouwildekameel? Buitendien hy het ‘n bobberilla om hom op te pas.  En ‘n regte kat om sy bene warm te lê.”

Kinders leer hier om hul vrese in die nag te oorwin. Die humoristiese aanslag help ook. 

Marita van der Vyver se teks lees lekker en gerusstellend. 

Dale Blankenaar se donker verbeeldingryke illustrasies versterk die gevoel vna ‘n donker nag met onheilspellende gedoentes wat die seuntjie bang laat voel. Sy dubbel volblad illustrasies van elke spesifieke monster is regtig baie indrukwekkend. Daar is fyn detail in elke vertrek- Daniel in ‘n klein badjie oordonder deur die groot monster met die skubberige vel; ‘n beertjie wat teen die gordyn uitklim; die bobberilla met ‘n snaakse sneeu-kleurige vel en blink holtes vir oë; ‘n reuse leeu wat sy hele bed oordonder en net die klein seunskoppie met handjies wat sy oë toehou is sigbaar; en dan Daniel wat op die dier se rug deur die lug sweef met beertjie wat hom vanuit die huis se skoorsteen toekyk.  Hy is nou baie duidelik in beheer van die situasie.

Die donker kleure in die vertrek word telkens ligter as ouma of oupa hom verseker dat hy nie vir die gediertes bang hoef te wees nie.

Die boek is werklikwaar ‘n kunswerk van begin tot einde. Kunsliefhebbers  sal dit geniet, en kunsstudente kan leer by Blankenaar wat defnitief  hier werk van hoogstaande gehalte lewer.

Dit is ‘n boek vir fynproewers. 

Tuesday, April 7, 2015

Siembamba bekoor


Siembamba- immergroen rympies vir kinders  saamgestel deur Wendy Maartens met illustrasies deur Alzette Prins ( LAPA, 2015)

 

As kinderbibliotekaresse het ek met groot gesukkel Engelse rympies en vingerspeletjies in Afrikaans vertaal, en altyd gehoop iemand stel ‘n boek saam wat ouers en bibliotekaresse en onderwysers sal help om kleuters lief vir ons wonderlike taal te maak . Want niks onthou ‘n mens mos beter as daardie rympies,  raaisels, tongknopers , gebedjies en s laapliedjies van jou kinderjare nie.

En hier word Siembamba gepubliseer met die volledigste versameling van kinderrympies en versies ooit.

‘n Lys van erkennings en bronne word gegee, en skrywers soos C.J. Langenhoven, P.W.Grobbelaar; D.J.Opperman , Van Bruggen en nog vele meer se werk vind hier ‘n tuiste.

Dit is die heerlikste boek vir elke gesin ; noodsaaklik vir skool-en biblioteekversamelings en oumas en oupas moet maar die sak skud vir die kleinkinders as geskenke.  13 Hoofstukke met die opskrifte soos Duimpie Dikkedoor, Vrot tamaties lekker konfyt, Jorsie Worsie en sy maats, Allawiek, allawak, husse met lang ore, Sarel Marais het ‘n eier gelê, Sing is ‘n lekker ding en Doedoe, ogies toe ,maak jou nog meer lus om verder te lees.

Dan is daar as bonus die illustreerder Alzette Prins se vrolike  lewenslustige en kleurvolle illustrasies wat die boek as geheel ‘n pragboek maak. Haar aanvoeling vir die kind se verbeeldingswêreld is 100% in die kol.

‘n Groot dankie vir ‘n boek wat ‘n mens met groot vreugde kan koester en geniet.   

Prenteboeke van formaat!


Prenteboeke :

Die ruwe berg, deur Einar Turkowski( PROTEA, 2015) Uit Duits vertaal deur Nicol Stassen.

“In die land waar die kerse van onder af boontoe brand en dit uit die grond boontoe reën, is daar ‘n berg met ‘n onheilspellende naam.” Die ruwe berg verander elkeen wat dit waag om teen hom uit te klim emosioneel , fisies of intelektueel. ‘n Man besluit da thy die berg gaan aandurf. So begin die verhaal van sy tog en wedervaringe soos hy gelydelik die berg bestyg.

Hierdie is een van daardie besondere boeke wat die leser betrek, bekoor en waarna jy telkens sal terugkeer; miskien om die gelykenis van ‘n boekkunstenaar weereens te beleef, of om verdiep te raak in die meesterlike  verbeeldingryke keurige illustrasies wat jou intelektueel uitdaag en weer na detail laat kyk.

Hierdie is ‘n treffende voorbeeld van ‘n prenteboek wat kinders kan fassineer, maar veral ook volwassenes sal geniet. Absoluut ‘n kunswerk van gehalte!

Die vallei van die windmeulens deur Noelia Blanco en Valeria Docampo, in Afrikaans  uit Frans vertaal deur Nicol Stassen.  Die Engelse weergawe is vertaal deur Charl J.F.Cilliers.

In die vallei van die windmeulens het mense normaalweg geleef totdat die volmaakte masjiene opgedaag het en so hul hele wêreld verander het. “Dit was nie meer nodig om op ‘n verskietende ster te wag om ‘n wens te wens of ‘n droom te droom nie.

Selfs die windmeulens het ophou werk.

Anna die vallei se kleremaakster het tog nog in haar drome geglo. Sy ontmoet die Voëlma en hy vertel haar dat hy prpobeer om te vlieg sodat hy die hele wêreld kan sien.

Sy besluit om ‘n vliegkostuum vir hom te maak van die wind se hare. Toe die wind begin waai, begin die windmeulens weer werk, en so word die inwoners se wense weer versprei.

‘n Baie spesiale prenteboek wat jou verbeelding aangryp en die simboliek laat jou dink oor ‘n bestaan sonder drome gereguleer deur masjiene .   Die illustrasies is uniek en baie spesiaal. Anna wat die perdeblom pluk en in die wind laat versprei bied ‘n illustrasie wat jou betower.  

Hierdie is soos die Ruwe berg ‘n prenteboek wat hoort in versamelings waar boekliefhebbers die kunstigheid waardeer.

3 Titels  oor ‘n kat: My kat, die mees verspotte kat ter wêreld; Toe my kat nog klein was(2); en Nuus oor my kat(3) deur Gilles Bachelet. Uit Frans vertaal deur Nicol Stassen( PROTEA, 2015)

Die skrywer ,ook illustreerder, vertel deur sy humoristiese illustrasies die leser van sy kat wat baie groot, saggeaard en baie verspot is. Hy weet eintlik nie regtig watter soort kat hy het nie!

 Sy “kat” is ‘n olifant, en hy gaan voort om die leser te vermaak met humoristiese illustrasies van sy kat as hoofkarakter  onder elke denkbare situasie- besig om te eet,  rustende op enigeiets; sy toilet-maniere; as model vir ‘n skildery en met verskeie kleurvolle pelse.

Heel vermaaklik, en met ‘n sterk verbeelding aangedurf!

Toe my kat nog klein was:

Hier vertel die skrywer dat ‘n klein katjie entoesiasties moet wees; speel; slaap;  sonder sy baas moet kan funksioneer met bv. die hulp van ‘n nuwe speelding; of deur op ‘n wortel versot te raak!  Weereens vertel die illustrasies die verhaal oorspronklik en onderhoudend.

Nuus oor my kat:

Die skrywer en sy kat verhuis. Die huis is so groot soos sy kat. Hier ontmoet hy sy verloofde- sy is ‘n regte kat!  Die illustrasies hier laat die leser toe om hul verhouding mee te maak; snaakse voorbeelde van hoe sy hom was en mooimaak enin die tuin wegkruipertjie speel. 

Ek dink die skrywer het sy verbeelding vrye teuels gegee om alle denkbare situasies uit te beeld. Die boeke is in hardeband en van groot formaat; ouer kinders sal die humor waardeer.  Kleuters kan hul verdiep in die kleurvolle illustrasies.

Mimus 'n grootse verhaal


Mimus deur Lilli Thal( PROTEA, 2015)  In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

Vanaf ‘n rustige toneel waarin die toekomstige heersers van Monfiel insluitende die kroonprins Florin na sprokies sit en luister, ontwikkel hierdie lywige verhaal na ‘n boeiende meesleurende vertelling van die kroonprins se gevangeniskap in Vinland, die koningkryk wat met Monfiel in ‘n oorlog gewikkel was.  Florin ontvang die tyding dat ‘n vredesverdrag gesluit is en gaan op uitnodiging na Vinland vir ‘n vredesfees. Daar ontdek hy dat sy pa , koning Philip , en sy gevolg gevange geneem is. Florin word verdoem deur Koning Theodo om as hofnar opgelei te word deur Mimus- die gemene raaiselagtige hofnar.

So word dit die verhaal van Florin die hofnar. Mimus leer hom lawwe toertjies doen, grappe vertel, rympies voordra terwyl hy soos Mimus onder haglike omstandighede in strooi slaap en gedurig honger lei. Vir selfbehoud doen hy mee; vermaak die koning en sy gevolg, ook sy bekoorlike dogter prinses Alix. Terselfdertyd probeer hy sy vader wat gevange gehou word besoek. Sal hulle ooit gered word uit hierdie gevangeniskap?

‘n Verhaal wat enduit boei. Die skrywer het ‘n meestersgraad in Middeleeuse geskiedenis. In 2004 is die boek met die Deutscher Jugenliteraturpreis ( Duitse jeug-literatuur prys) beoordeel. Om die uitgewer aan te haal:

“Mimus is ‘n verhaal van konings en narre, mag en vernedering, humor en hartseer, en in die middel ‘n enkele hofnar wat terselfdertyd lig en donker verteenwoordig.”  Geskikvir jeug-12-18 jaar, maar ook vir volwassenes wat ‘n storie geniet waarin jy jou tande lekker kan inslaan. Hoogs aanbeveel.