Saturday, January 31, 2015

'n Oulike spokie op besoek


Preussler, Otfried: Die klein spokie( PROTEA, 2014) In Afrikaans vertaal deur Amelia de Vaal

 

“Vir donkiejare al woon in Kasteel Uilsteen ‘n klein spokie-‘n heeltemaal skadelose nagspokie wat niemand enige kwaad sal aandoen solank hy nie getreiter word nie”…

Om middernag neem hy sy 13 sleutels en verken die kasteel. Sy beste vriend is Oe-hoe Sjoe-hoe, ‘n uil. Sy grootste wens is om tog eenmaal die wêreld in die dag te sien. Toe die raadhuishorlosie twaalfuur verkeerdelik slaan, word hy in die dag wakker. Nou is hy swart soos die sonstrale hom verkleur het, en laat almal skrik wat hom teëkom.

Dit is die begin van sy opwindende avontuur in Uilenburg. Die dorp is in rep en roer, want ‘n swart gedaante doen die rondte! Met die 325-jarige viering van die beleg van UIlenburg deur die Swede besluit hy in sy onkunde om die stad te help red van die dreigende gevaar.Sy inmenging veroorsaak dat die hele geleentheid bederf word. Gelukkig ontmoet hy die apteker se kinders wat hom weer help om sy spook-lewe terug na “normaal” te bring. En hy kan weer lekker kuier by sy ou vriend, weer ‘n wit spokie soos die maanligstrale hom weer wit getower het. 

‘n Oulike fantasie verhaaltjie wat in Duits benoem is vir die Jugendbuch-prys en in 2013 is ‘n rolprent daarvan vervaardig , Das kleiner Gespenst.

KInders 6jaar en ouer behoort dit te geniet. Die vertaling lees lekker  en die spokie se avonture is heel snaaks en sjarmant.  Die illustrasies is toepaslik vir die tyd waarin die verhaal afspeel en die geheel indruk van die boek is  dat dit keurig versorg is.

‘n Klassieke werk wat ‘n plek verdien in tuis –en biblioteekversamelings.

 

Lona Gericke

Twee lekker ligte ontspanningsverhale vir tieners!-

Jonker, Marga: City girl en die swart hings ( Tafelberg, 2014) en

Neser, Christien: Franse vlegsel( LAPA, 2014)

City girl en die swart hings:

Perdestories bly gewild by jong lesers, en hierdie is die derde boek deur Marga Jonker, vooraf gegaan deur Sonder Chocolate Charlie (2013) en Brigadier en die raaiselponie(2014).

Weereens stel sy nie teleur nie. Nicole en haar ma gaan die vakansie op Elandsbaai deurbring waar haar ma navorsing in mikrobiologie gaan doen. Gelukkig word sy uitgenooi om saam met die Weskus ruiters perd te ry.  Die jongmense is geinteresseerd in ‘n swart hings –‘n wildeperd Soutvis wat hulle graag wil aankeer. Nicole op Raven, ‘n swart merrie, trek sy aandag. 

So begin ‘n opwindende vakansie vir City girl. Sy kom ‘n strandwolf teë en leer seil, maar die heel beste ondervinding is die maanligrit op die strand met Raven waar Soutvis nou begin saam hardloop en uiteindelik besluit het sy wilde jare is verby. Die vakansie was toe gladnie so sleg nie!

‘n Lekker storie met genoeg detail om oortuigend te wees. Die karakters oortuig in hierdie milieu, en die interaksie tussen karakters  wat uitgebeeld word is gemaklik en warm en oortuigend. Goeie waardes en gesonde gesinsverhoudings word uitgebeeld.

Franse vlegsel:

Hierdie is die sesde boek in die uiters gewilde tiener reeks met Elle Kroon as die hoofkarakter. Kondensmelk, Koshuiskoffie, Blou sjokolade, Rocksusters, en Duinebesies het voorheen verskyn.

Elle begin haar Graad 11 jaar maar sleg volgens haar- Alex gaan ‘n jaar lank weg op een of ander avontuur; haar status is dus nou alleenlopend; haar nuwe haarstyl is vreemd; sy verloor die sleuteltjie tot die ketting wat Alex met sy vertrek aan haar gegee het; en nou moet sy ook help om die twee uitruilstudente uit België tuis te laat voel by Gravitas. En om dinge nog ingewikkelder te maak is Maxime . die uitruilstudent, nogal baie aaantreklik! Gelukkig is daar die vakansie in Parys om na uit te sien-haar ouers gaan haar daar ontmoet met ‘n spesiale geskenk.

Soos die vorige boeke in die reeks lees Franse vlegsel ook lekker. Die gemaklike styl en geloofbare karakters bewys dat Neser se gewildheid net gaan bly. ‘n Lekker ontspanningsleesboek vir tieners.

 

Lona Gericke - Januarie 2015